AS ONS koste wil besnoei, is ons mediese fonds een van die eerste uitgawes waaraan ons krap.
Die kenners by finansies.solidariteit.co.za meen Suid-Afrikaners is finansieel onder druk omdat die lewenskoste die hoogte in skiet terwyl inkomstevlakke ingeperk bly.
Baie huishoudings oorweeg opsies met goedkoper voordele by mediese fondse nadat premiestygings van ongeveer 8,5% vir 2019 aangekondig is. Dié jaarlikse styging, gekoppel aan ’n algemene styging in lewenskoste, is hoër as die inflasiekoers.
Janette Clark, gesondheidsorgbestuurder by Aon Suid-Afrika se afdeling vir werknemervoordele, het aan finansies.solidariteit.co.za gesê goedkoper opsies beteken minder voordele en dit kan jou op die lange duur meer kos.
Spaargeld
Clark het gemaan mense moet ’n paar belangrike faktore en implikasies oorweeg voordat hulle oorhaastige veranderinge aan hulle dekking aanbring.
Volgens haar sal die kontantuitgawes op medisyne skerp styg vir ’n gesin wat dekking vir chroniese siektes benodig.
Dit sal meer kos as die fonds se mediese spaargeld. Dan sit hulle met ’n aansienlike bykomende finansiële las.