21 dae gelede
Daar is hoop vir lyers van PTSV
MOEILIKER: Vroue ervaar PTSV dikwels anders as mans.  ~ Getty Images

VROUE is meer geneig as mans om aan posttraumatiese stresversteuring (PTSV) te ly.

Die webwerf welstand.solidariteit.co.za berig in navorsing is bevind vroue is twee keer so geneig as mans om PTSV op te doen. Hulle ervaar ook die simptome daarvan vir langer.

PTSV kan by enige iemand voorkom wat lewensbedreigende gebeure of geweld ervaar het.

Vroue is meer geneig om in hul leeftyd aan PTSV te ly, aangesien hulle meer dikwels die slagoffers van persoonlike aanvalle soos verkragting en seksuele aanranding is.

PTSV kan onmiddellik ná só ’n gebeurtenis begin ontwikkel en dan vererger, maar simptome kan ook eers maande of selfs jare later begin ontwikkel.

Volgens kenners besef vroue baiekeer nie dat hulle PTSV het nie omdat vroue die gebeure internaliseer.

Gedagtes

Dit beteken dat hulle net aanvaar daar is iets verkeerd met hulle pleks daarvan om na antwoorde te soek oor hoe hulle voel en wat met hulle gebeur.

Pleks daarvan om gedagtes, gevoelens, gedrag of emosies dus toe te skryf aan iets wat met hulle gebeur het, sal hulle net dink dit is maar hoe hulle is.

Simptome van PTSV sluit onder meer in terugflitse van die traumatiese gebeurtenis, slaapprobleme, paniekaanvalle en depressie.

Dit kan ook lei daartoe dat die slagoffer plekke, mense en emosies probeer vermy.

Vroue ervaar PTSV dikwels anders as mans. Vroue met PTSV is meer geneig om maklik te skrik, meer met emosies en gevoelens te sukkel­, dinge wat hulle aan die trauma herinner te vermy en depressief en angstig te voel.

TOESTAND: PTSV kan by enige iemand voorkom wat ’n lewensbedreigende of gewelddadige gebeurtenis ervaar het.

Daar is ook faktore wat bydra tot die waarskynlikheid om PTSV te ontwikkel.

Dit sluit in ’n persoon se geestelike en fisieke gesondheid, emosionele reaksie op die trauma, die soort trauma, ouderdom, huwelikstatus, emosionele ondersteuningstelsel en ervaring van bykomende stres daarna.

Dit kan bitter moeilik wees om die simptome van PTSV te hanteer. Gevolglik is baie mense met PTSV vatbaar vir die ontwikkeling van ongesonde en skadelike gedrag, soos drank- of dwelmmisbruik of om hulself leed aan te doen.

Vaardighede

Verskeie soorte behandeling vir PTSV is beskikbaar, insluitend medikasie en terapie­.

Daar is ook persoonlike vaardighede wat aangeleer kan word om PTSV-simptome te bestuur.

Dit sluit in om te leer hoe om angs, emosies en onaangename gedagtes te hanteer en die faktore te identifiseer wat die simptome vererger.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters