16 dae gelede
Beste vir borste
shop rond: Jy kan sorg dat jy goeie borsgesondheid handhaaf. Foto’s: istockphoto  ~ 

ONS as vroue moet goeie borsgesondheid handhaaf om te help keer dat ons borskanker kry.

Jy kan sorg dat jy goeie borsgesondheid handhaaf deur alles in jou vermoë te doen om jou borste ten beste te versorg op ’n natuurlike manier.

As jy goed voel oor jou borste, gee dit jou selfbeeld ’n hupstoot. En dit sal oorspoel na jou huwelik.

Hier is ’n paar wenke van intiem.co.za oor hoe om goeie borsgesondheid te bevorder.

Gesondheid in die rondheid

As jy van jongs af goeie onderklere dra, sal jy beslis die vrugte daarvan pluk. En as jy ouer word, het jou borste selfs méér ondersteuning nodig.

As jy gereeld sukkel met bra’s wat nie behoorlik pas nie, is dit belangrik dat jy vir ’n bra-pas-sessie by ’n kenner gaan.

So ’n persoon kan jou bystaan om die regte keuse te maak en die grootte te kry wat by jou en jou behoeftes pas.

Baie vroue sukkel omdat hulle onwetend die verkeerde grootte bra dra. ’n Gemaklike bra wat nie te styfpassend is nie, kan wondere verrig.

Goeie aanvullings en vitamiene

Daar is verskeie bekostigbare en natuurlike produkte waarin jy kan belê om jou borste fermer te maak en selfs jou borsweefsel te laat groei.

Daar is kapsules en room wat jou kan help om gesonder en fermer borste te kry.

Die room kan selfs help om rekmerke te verminder en littekens te laat verdof.

Dit sal ook jou vel hidreer en die kollageen en elastien in jou borste versterk.

Gereelde borsondersoeke

Moenie bang wees om ’n mammogram te laat doen nie.

’n Gereelde mammogram kan jou lewe red as die dokters betyds iets raaksien wat nie normaal lyk nie.

Moenie hierdie belangrike roetine-toets afskeep nie.

Jy is dit aan jouself verskuldig om hierdie belang­rike hulpmiddel in borsgesondheid ’n prioriteit in jou lewe te maak.

Gesonde gewig

As jy ’n gesonde gewig het, kan dit baie vir jou borsgesondheid beteken.

Gesonde gewig help ook om ’n verskeidenheid gesondheidsrisiko’s af te weer.

Gesonde gewig, tesame met ’n gebalanseerde dieet en matige alkohol-inname, is die sleutel tot algehele gesondheid en gesonde borste.

Matige oefening

Matige oefening, soos om gereeld te stap of liggies te draf, is voordelig vir jou omdat dit limfstimulering kan bevorder. Dit kan ook help om gifstowwe uit jou liggaam te verwyder.

Oefening en ’n gesonde leefstyl en dieet sal dit ook makliker maak om ’n gesonde gewig te handhaaf.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters