2 maande gelede
Beste lê nog voor
hêppie: Vroue se selfvertroue verbeter namate hulle ouer word. Foto: vetpeople.com  ~ 

ONS vroue is mos soos rooiwyn – ons raak beter met die tyd.

Hoewel die plooie en die grys hare met ouderdom kom, is daar baie ander goeie dinge wat daarmee saam kom.

Volgens die webwerf goeiehuishouding.co.za is jy nie net wyser as jou jeug­diger self nie (jou brein is eers op 25 ten volle ontwikkel!), maar in baie opsigte sal jy gelukkiger en gesonder wees.

Hier is van die ander goed wat beter word:

Jy kry minder verkoue

Kinders het eindelose energie, maar hulle neus hou dikwels ook nie op loop nie. Hulle kry ses tot ag keer per jaar verkoue in vergelyking met grootmense se twee tot vier keer.

“Volwassenes het meer teenliggaampies — die witbloedselle wat infeksies help beveg en voorkom,” sê dr. Ehsan Ali van Beverly Hills. Dié selle sal nie noodwendig keer dat jy jou peuter se kieme kry nie, maar jou liggaam sal beter terugveg.

Jy is minder geneig tot hoofpyn

Enige migraine-lyer weet hoe verlammend dit is. Nadat dit in jou 30’s ’n pynlike hoogtepunt bereik, is dit geneig om daarna minder gereeld en fel voor te kom.

“Hormone speel ’n groot rol by migraines, wat verklaar hoekom dit meer algemeen by vroue voorkom,” verduidelik dr. Ali.

Ná menopouse wissel jou estrogeenvlakke nie meer soveel nie, wat dikwels minder migraines beteken.

Jou vriendskappe word sterker

’n Lojale vriendin is op enige ouderdom van onskatbare ware, maar met verloop van tyd het vriendskap ’n groter effek op jou gesondheid en geluk, volgens navorsing aan die Michigan-universiteit in die VSA.

Trouens, jou vriendinne gaan op die ou end dalk belangriker as jou familie wees wanneer jy deur eensaamheid en die lewe se rollercoaster rides gaan.

Jy is gelukkiger

Geluk en geestesgesondheid is geneig om met ouderdom te verbeter, volgens navorsing wat in die Journal of Clinical Psychiatry gepubliseer is.

“Iets wat jou ontstel of ontwrig wanneer jy 35 is, gaan jou nie noodwendig onderkry wanneer jy 65 is nie,” sê dr. Kathryn Smerling, ’n sielkundige.

Jou sekslewe is beter

Onthou jy daai onbeholpe gesoen as tiener? Hoe ouer jy word, hoe meer vaardighede en strategieë verkry jy wat tot seksuele wysheid lei. Dis volgens navorsing wat in die Journal of Sexual Research gepubliseer is. Hoewel jou libido dus nie heeltemal is wat dit vroeër was nie, het navorsers bevind dat die gehalte van seks belangriker raak as hoe dikwels julle intiem verkeer.

Jy’t meer selfvertroue

Jy voel dalk heel in jou noppies met jou jongste Instagram-selfie, maar jou selfbeeld sal waarskynlik eers tussen 60 en 75 op sy beste wees, luidens navorsing wat in die Psychological Bulletin gepubliseer is.

“Namate jy ouer word, leer jy sekere dinge is tydelik en dat iets wat vandag ’n katastrofe is teen môre opgeklaar het,” sê Smerling.

“Jy het die wysheid om jou nie deur die klein dingetjies te laat ontstel nie, en jy steur jou minder aan ander se opinie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters