3 maande gelede
Bespaar só ’n ekstra bietjie geld
werk saam: As jy met die hand skottelgoed was, kan jy en jou gesin bespaar as julle eenmalig was. Foto: fullcirclefoods.com  ~ 

ALLES is duur – veral brandstof en elektrisiteit.

Maar ons kan kies om energie slim en verantwoordelik te gebruik.

Finansies.solidariteit.co.za gee die volgende wenke sodat julle as ’n gesin darem ’n sent of twee kan bespaar.

  • Kook net genoeg water vir die tee of koffie wat jy wil drink. Giet oortollige kookwater in ’n warmfles, want dit sal later minder krag neem om dit weer te kook.
  • Bring kos vinnig tot kookpunt en draai dan die hitte laer en laat die kos gaar prut.
  • Gebruik jou mikrogolfoond sover jy kan en plaas twee items saam in die mikrogolfoond. Gebruik­ jou konvensionele oond om twee items gelyk te bak wat dieselfde baktyd benodig.
  • Skakel jou geyser af as jy lang weggaan, soos met vakansie. Dit werk nie rêrig in die kort termyn nie omdat die geyser weer al die water moet verhit. Stel die geyser se temperatuur af, veral in die somer. Stort eerder as bad, want jy bespaar water en elektrisiteit.
  • Gebruik klein kombuistoestelle soos elektriese braaipanne, prutpotte, roosters, drukkokers en elektriese koffiepotte, want dit bespaar energie.
  • Moenie jou vrieskas onnodig oopmaak nie. Wanneer jy baie kos vries, maak seker daar is lugsirkulasie om die voedsel om vinnige vries te verseker en sodoende krag te bespaar.
  • Belê in energiebesparende gloeilampe soos LED-gloeilampe. Skakel net ligte aan wat jy werklik nodig het. ’n Tydskakelaar sal ook help en ’n bewegingsensor vir binne sowel as buite jou huis kan jou elektrisiteit spaar.
  • Was eenmalig skottelgoed as jy met die hand was. As dit lank neem vir die warm water om by die wasbak te kom, kook dan water in die ketel en voorkom sodoende watervermorsing. Maak ook die skottelgoedwasser heeltemal vol voordat jy aanskakel, want ook hier is klein ladings ’n vermorsing van krag en water.
  • Skakel die strykyster af as jy onderbreek word. Stryk wasgoed wat ’n hoër hitte vereis eerste en delikate goed laaste. Selfs nadat jy die strykyster afgeskakel het, sal daar genoeg­ hitte wees vir delikate items.
  • Gebruik ’n tuimeldroër net as dit noodsaaklik is; laat klere lugdroog word.
  • Trek muurproppe uit, want sommige elektriese toebehore gebruik krag, al is hulle nie aangeskakel nie. Rekenaars, televisies, DVD-spelers, dekodeerders, klankstelsels en selfoonlaaiers is groot sondaars. Hulle trek almal krag wanneer hulle ingeprop is, al gebruik jy hulle nie.
  • Gebruik ligte kleure in jou dekor; dit weerkaats lig en laat ’n vertrek ligter vertoon. Vermy swaar, donker gordyne en gebruik meer natuurlike lig. Gebruik spieëls om lig in jou vertrek in te bring. ’n Domplig gebruik nie net minder elek­trisiteit nie, dit kan ook ’n vertrek se atmosfeer ver­ander.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters