23 dae gelede
Bespaar só ’n ekstra bietjie geld
werk saam: Jy en jou gesin kan bespaar as julle eenmalig skottelgoed was as jy met die hand was.Foto: fullcirclefoods.com  ~ 

DAAR is veral twee dinge wat ons daagliks baie geld kos – elektrisiteit en brandstof.

Dié twee goed is van beperkte hulpbronne afkomstig en dít is hoekom ons dikwels ons gatte daarvoor af betaal, maar ons kan kies om energie slim en verantwoordelik te gebruik.

Die webwerf finansies. solidariteit.co.za gee die volgende wenke vir die hele gesin om te volg sodat julle darem ’n sent of twee kan bespaar.

  • Kook net genoeg water vir die tee of koffie wat jy wil drink. Gooi die kookwater wat in die ketel oorbly in ’n warmfles, want dit sal later minder krag neem om die water weer te kook indien nodig vir ’n koppie.
  • Bring kos vinnig tot kookpunt en draai dan die hitte laer en laat die kos gaar prut.
  • Gebruik jou mikrogolfoond sover jy kan en plaas twee items saam in die mikrogolfoond. Gebruik jou konvensionele oond om twee items wat dieselfde baktyd benodig, te bak.
  • Skakel jou geiser af as jy lang rukke nie tuis gaan wees nie, soos met vakansie. Wees egter bedag daarop dat jy nie noodwendig op kort termyn spaar nie omdat die hele geiser weer verhit moet word. Stel die geiser se temperatuur af, veral in die somer. Stort eerder as bad, want jy bespaar water en elektrisiteit.
  • Gebruik klein kombuistoestelle soos elektriese braaipanne, prutpotte, roosters, drukkokers en elektriese koffiepotte, want dit bespaar energie.
  • Moenie jou vrieskas onnodig oopmaak nie. Wanneer jy groot hoeveelhede voedsel vries, maak seker dat daar lugsirkulasie om die voedsel is om vinnige vries te verseker en sodoende krag te bespaar.
  • Belê in energiebesparende gloeilampe soos LED-gloeilampe. Skakel net ligte aan wat jy werklik nodig het. ’n Tydskakelaar sal ook help en ’n bewegingsensor vir binne sowel as buite jou huis kan jou elektrisiteit spaar.
  • Was eenmalig skottelgoed as jy met die hand was. As dit lank neem vir die warm water om by die wasbak te kom, kook dan water in die ketel en voorkom sodoende watervermorsing en spaar op die geiser se krag. Maak die skottelgoedwasser heeltemal vol voordat jy aanskakel, want klein ladings is ’n vermorsing.
  • Skakel die strykyster af as jy onderbreek word. Stryk wasgoed wat ’n hoër hitte vereis eerste en delikate goed laaste. Selfs nadat jy die strykyster afgeskakel het, sal daar genoeg­ hitte wees vir delikate items.
  • Gebruik ’n tuimeldroër net as dit noodsaaklik is; laat klere lugdroog word.
  • Trek muurproppe uit, want sommige elektriese toebehore gebruik krag, al is hulle nie aangeskakel nie. Rekenaars, televisies, DVD-spelers, dekodeerders, klankstelsels en selfoonlaaiers is groot sondebokke; hulle trek almal krag wanneer hulle ingeprop is, al gebruik jy hulle nie.
  • Gebruik ligte kleure in jou dekor; dit weerkaats lig en laat ’n vertrek ligter vertoon. Vermy swaar, donker gordyne en gebruik meer natuurlike lig. Gebruik spieëls om lig in jou vertrek in te bring. ’n Domp-lig gebruik nie net minder elek­trisiteit nie, maar kan ook ’n vertrek se atmosfeer ver­ander.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters