14 dae gelede
Beskerm kinders
WEES INGELIG: As jy vermoed ’n kind word mishandel, moet jy ’n welsynwerker, die polisie of Childline kontak.  ~ Istockphoto

KINDERMISHANDELING kom in alle gemeenskappe voor en die slagoffer haat nie noodwendig altyd die mishandelaar nie.

Die skuldige persoon is in die meeste gevalle iemand wat die kind of sy of haar familie ken.

Volgens die webwerf jougesin.solidariteit.co.za is kindermishandeling enige interaksie of gebrek aan interaksie deur ’n ouer of versorger wat lei tot nie-toevallige skade aan die kind se fisieke toestand of ontwikkeling.

Dit sluit dus nie net fisieke skade in nie, maar ook emosionele en seksuele mishandeling, asook verwaarlosing.

Dit is ons almal se verantwoordelikheid om as ’n gemeenskap te sorg vir die veiligheid van ons kinders.

Geweld is enige aktiwiteit deur ’n persoon of organisasie wat voorkom dat iemand sy of haar menseregte kan uitoefen.

Dit kan verbaal, fisiek, emosioneel of polities wees en kan selfs gewapende konflik insluit.

As jy vermoed dat ’n kind mishandel word, is dit belangrik dat jy ’n welsynwerker, die polisie of Childline kontak.

Moenie self die oortreder konfronteer nie.

Daar is verskeie soorte mishandeling.

) Seksuele mishandeling

Seksuele mishandeling vind plaas wanneer iemand ’n kind dwing of uitlok om aan seksuele aktiwiteite deel te neem.

Dit maak nie saak of die kind daartoe instem of nie, dit is steeds mishandeling. Dit begin by die afloer van ’n kind tot veel ernstiger seksuele aktiwiteite.

) Fisieke mishandeling

Dis enige daad wat lei tot die besering of dood van ’n kind. Dit kan kneusplekke en hale, snye en skaafwonde, breuke of verstuitings, vergifting, brandwonde en enige herhaalde besering insluit waarvoor daar nie ’n aanvaarbare verduideliking is nie.

Verwaarlosing kom voor wanneer daar doelbewus nie in die kind se fisieke behoeftes voorsien word nie. Dit sluit die verskaffing in van voedsel, warmte, skuiling en beskerming teen gevaar, asook mediese sorg en die kind se opvoeding.

Kinders mag ook nie alleen by die huis gelos word nie.

) Emosionele en sielkundige mishandeling

Dis ’n patroon wat die kind se emosionele ontwikkeling of gevoel van selfwaarde skaad of beperk. Dit kan die vorm aanneem van kritiek, dreigemente of verwerping. Dit word ook as mishandeling beskou wanneer ’n kind geïgnoreer of geïsoleer word; tot die volwassene se voordeel misbruik word; gevloek word, of dat daar vir hom of haar leuens vertel word.

) Kinderuitbuiting

Dis die blootstelling van ’n kind aan kinderarbeid, slawerny, seksuele uitbuiting, kinderpornografie, mensehandel, en die gedwonge verwydering van liggaamsdele.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters