25 dae gelede
Beplanning voor die bevalling
nie meer lank: As werkende vrou is dit belangrik dat jy jou vroegtydig moet vergewis van kraamverlof.Foto: istock/photo  ~ 

DIE koms van ’n nuwe baba is een van die mooiste tye in ’n nuwe mamma se lewe, maar die meeste van die tyd onderskat ons die ekstra finansiële druk wat daarmee gepaard gaan.

As werkende vrou is dit belangrik dat jy jouself vroegtydig daarvan moet vergewis.

Vind uit hoe jy die inkomstekloof wat tydens jou kraamverlof kan ontstaan, kan oorbrug en verseker so dat jy steeds jou uitgawes, versekeringspolisse en skuld kan betaal.

Volg dié wenke van finansies.solidariteit.co.za.

Verstaan ??op watter inkomste jy geregtig is

Volgens Muhammed Goolab, lid van die uitvoerende komitee van die Suid-Afrikaanse Vergoedingsvereniging (Sara), vergelyk Suid-Afrika se beleid en voordele vir kraamverlof goed met dié van baie ander lande.

In ons land is ma’s kragtens wet geregtig op tot vier maande kraamverlof. Werkgewers is egter nie verplig om jou salaris tydens jou kraamverlof te betaal nie, net om jou werk vir jou te hou.

Vrygewige ondernemings betaal drie of vier maande se kraamverlof ten volle; ander betaal niks, terwyl ander iets tussenin vergoed (dalk 75% van jou salaris), sê Goolab.

As jou werkgewer nie ten volle betaal terwyl jy met kraamverlof is nie en jy tot die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) bydra, kan jy in aanmerking kom vir ’n voordeel uit die fonds.

Volgens die WVF se online portal, ufiling.gov.za,word die voordele volgens ’n glyskaal bereken en dit kan wissel van 60% vergoeding vir die lae-inkomste-bydraers tot 38% van die vergoeding vir die hoë-inkomste- by­draers.

Die departement van arbeid bereken hoeveel kredietdae jy tot jou beskikking het volgens jou werkrekord van die afgelope vier jaar. Vir elke ses maande gewerk, ontvang jy ’n maandelikse voordeel vir ’n maksimum van vier maande.

Dis noodsaaklik dat jy met jou werkgewer se afdeling menslike hulpbronne praat. Sorg dat jy ’n duidelike begrip het van wat jou werkgewer jou tydens jou kraamverlof sal bied.

Praat oor die tydperk waarvoor jy kwalifiseer en die gedeelte van jou salaris wat gedurende dié tydperk aan jou betaal sal word.

Dis moontlik dat jy betaalde verlof kan gebruik om die verlof wat jy neem, te verleng met volle of gedeeltelike betaling.

Vind uit hoe jou voordele soos lidmaatskap van die mediese skema, groep-lewens- en ongeskiktheidsdekking en pensioenbydraes gedek gaan word.

As jou werkgewer dit nie betaal nie, moet jy weet wat jy daarvoor moet opdok en ’n plan maak om dit te betaal.

As jou werkgewer nie ten volle betaal nie, moet jy bepaal hoeveel jy van die WVF sal ontvang en of die betaling jou inkomstegaping sal oorbrug.

Raadpleeg ’n finansiële raadgewer om uit te werk hoe jy sal voortgaan om premies te betaal vir lewens-, ongeskiktheids- of uittree-annuïteitspolisse.

Vind uit of jy kwalifiseer vir premiekwytskeldings of laer premies tydens kraamverlof. Sommige versekeraars bied ’n opsie vir kraamonderbrekings onder hul inkomstebeskermingsbeleid, wat nuwe mamma’s tot vier maande se finansiële verligting op hul premies toelaat.

Maak ook seker van toelaes, belastingkrediete en kindervoordele waarop jy dalk geregtig is en eis dit.

Jaarlikse verlof

Skep ’n voorsprong met jou swangerskapfinansiering deur jou tydjie met jaarlikse verlof te begin voor die bevalling, eerder as om dadelik met kraamverlof te gaan.

Jy kry jou salaris tydens jou jaarlikse verlof, wat vir diegene wat tydens kraamverlof nie volle betaling ontvang nie, meer geld in die sak beteken.

Oorweeg die volgende gedurende die vroeë maande van jou swangerskap:

  • Betaal jou skuld af terwyl jy nog jou volle salaris verdien.
  • Besnoei aan jou weelderige leefstyl.
  • Dien jou WVF-aansoek vroegtydig in, want dis ’n proses wat ’n paar weke kan neem om te verwerk.

Hospitale, gesondheid en jou finansies

Besluit op ’n ginekoloog wat jy kan bekostig en op ’n nabygeleë hospitaal.

Samel soveel moontlik inligting in oor die mediese koste van ’n normale geboorte teenoor ’n keisersnee en oor pynbehandelingsopsies.

Byna ’n kwart van alle nuwe ouers moet skuld aangaan

Volgens navorsing deur kredietverskaffers maak ’n groot getal ouers (een uit elke vier) gebruik van krediet om koste te dek terwyl hulle tyd by hulle werk af neem om hul pasgeborenes te versorg.

Dit gebeur ten spyte daarvan dat meer as die helfte van die ouers gespaar het voordat hulle verlof geneem het.

Kenners sê die hoofrede hiervoor is dat ouers dikwels die koste van die versorging van ’n nuwe baba onderskat.

Baie nuwe ouers sê hulle was onvoorbereid op die koste en daarom was hulle angstig tydens hulle verlof.

Heelparty keer ook vroeër terug werk toe as wat hulle beplan het as gevolg van kommer oor geld.

Hulle moet gewoonlik dan by ’n streng begroting hou om koste onder beheer te bring.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters