Verlede maand
Begryp disleksie
WEES WYS: ’n Kind met disleksie wat goeie intellektuele vermoëns het, kan geweldig gefrustreerd raak.  ~ iStockPhoto

DISLEKSIE is een van die dinge waaroor mense in ons gemeenskappe nie graag praat nie.

Sommige mense vind soms te laat uit hulle kinders ly aan dié leergestremdheid. Daar is baie onsekerhede oor disleksie en die webwerf jougesin.solidariteit.co.za probeer lig daarop werp.

Die term “disleksie” is saamgestel uit twee Griekse woorde, dys (swak) en lexis (taal/woorde).

Die outydse siening is dat disleksie ’n fisieke versteuring in die brein is wat ver­oor­saak dat inligting verkeerd verwerk en geïnterpreteer word, wat dan lei tot lees-, spel- en skryfprobleme.

Dr. S.T. Potgieter, sielkundige van Bellville, lig kortliks ’n paar aspekte rondom disleksie uit en hoe dit ’n kind in die skool kan affekteer.

  • Disleksie is ’n leergestremdheid wat gewoonlik neurologies of biologies van oorsprong is. Dit word as ’n leerprobleem geklassifiseer omdat dit gewoonlik in die akademiese of die leeromgewing na vore kom.
  • Disleksie is ’n wanfunksie wat lewenslank voortduur, maar daar is hulp en behandeling wat dit moontlik maak om die effek daarvan in ’n groot mate te oorkom.
  • Disleksie dui nie op “dom” kinders of op ’n swak intelligensie nie. Mense met ’n hoë intelligensie kan ook disleksies wees. Daarom is dit belangrik dat ouers weet dat hulle kind met disleksie nie stout of lui is nie, maar wel ’n leerprobleem het.
  • Disleksie is ook nie die resultaat van swak onderrig in die skool of swak ouerskap nie.

Dit is belangrik om te weet dat daar verskillende vlakke van disleksie is en daarom word kinders verskillend hierdeur geraak.

Die een skool kan byvoorbeeld nie die probleem verstaan nie en die kind oor sy skoolwerk straf.

’n Ander skool, wat begrip toon, sal eerder die kind probeer help.

Taak

Die ouers en die onderwysers se houding en hulle begrip van die probleem is dus belangrik om ’n kind te help om sy toestand te aanvaar en sy selfbeeld te bou.

Hier is dus ’n groot taak vir enige opvoeder! Kinders kan afgebreek of opgebou word – dit hang van die ouerhuis en skool se aanslag en kennis van disleksie af.

Kinders met disleksie voel dikwels dom en kan ook sosiale en emosionele skade ly. Hoe ouer die kind word, hoe meer raak hy van sy disleksie bewus.

Hierdie kinders wil dan dikwels ook nie meer verder skoolgaan nie, vind dit moeilik om te kommunikeer en voel afgesonder en alleen. Hulle kan ook soms aggressief raak.

’n Kind met disleksie wat ’n goeie intellektuele vermoë het, kan geweldig gefrustreerd raak.

Hy wil graag presteer en aan die verwagtinge van homself, sy ouers en skool voldoen, maar as gevolg van disleksie het hy nie die vermoë om dit te doen nie.

Wanneer ouers hierdie probleem nie verstaan nie, kan dit tot konflik aanleiding gee.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters