Verlede maand
Ballonbetaling is ’n tricky ding
dink mooi: Ja, met ’n ballonbetaling kan jy jou droomkar bekostig, maar dis ’n deal wat jou op die lang duur finansieel aan die hakskeen kan byt.Foto’s verskaf  ~ 

IS JY een van daai wat nie regtig weet hoe ’n ballonbetaling werk nie?

In daai geval is dié brokkie inligting van goeiehuishouding.co.za net vir jou, want die meeste van die onduidelikhede daaroor word op dié webtuiste opgeklaar.

Wanneer jy oor ’n karlening onderhandel, sal jy waarskynlik moet besluit of jy ’n ballon­betaling, of reswaarde (dis basies dieselfde ding) op die lening wil doen.

Met ’n ballonbetaling betaal jy die eerste paar jaar ’n laer maandelikse paaiement.

Dít terwyl jy ’n kar besit wat jy andersins nie kon bekostig nie.

Dit klink dalk na ’n goeie idee, maar jy betaal ’n prys daarvoor.

Baie leners het hulle al in ’n paar onaange­name verrassings vasgeloop, soos om uiteindelik onder ’n berg skuld begrawe te word.

Jy het dalk nou die kar van jou drome, maar dit kan in ’n nagmerrie ontaard.

So, wat is ’n ballonbetaling?

Kom ons sê jy kan jou droomkar op die oomblik nie bekostig nie, want dit kos arguments­onthalwe so R400 000.

Maar dit skrik jou nie af nie, so jy gaan ’n lening aan van R400 000 oor vyf jaar by jou bank of enige ander geldskiet-instansie.

Jy besluit op ’n ballonbetaling van 25% op die lening: Dus R100 000.

Jou geldskieter laat daardie R100 000 vir eers buite rekening en laat jou die oorblywende R300 000 afbetaal.

So, jou maandelikse paaiement is aansienlik laer as wat dit sonder die ballonbetaling sou wees. Jy kan jou droomkar dus bekostig.

Al ding is, vyf jaar later skuld jy die geldskieter steeds R100 000 en nou eis hy die hele bedrag once cut.

Gevolglik moet jy óf die volle bedrag betaal óf nóg ’n lening aangaan óf die kar verkoop.

Dalk het jy voorsiening gemaak vir dié scenario deur elke jaar daarvoor te spaar.

Dalk beplan jy om daardie R100 000 te laat herfinansier – dis nou as die geldskieter wil. Dit beteken ook dat jy waarskynlik langer aan die kar sal afbetaal as wat jy dit wou besit.

Vanselfsprekend betaal jy gedurende die volle leningstermyn steeds rente op daardie bedrag.

Afhangende van die rentekoers wag daar waarskynlik ’n taamlik skok op jou.

Om jouself uit dié soort lening te wurm is ook moeilik, want dis meer gekompliseerd as die vereffening van ’n gewone karlening.

Dis omdat jy kragtens die kontrak aanspreeklik gehou kan word vir die vroeë beëindiging daarvan.

Dis dus nie net belangrik om te verstaan hoe dit werk nie; jy moet jou ook deeglik vergewis van enige moontlike boetes.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters