17 dae gelede
Ag glase water sal baie help
Hidreer: Vroue moet daagliks ’n volle 2,7 liter water drink.  ~ Gallo Images/ istock

DAAR word gereeld gepreek dat ons vroue ons eie besigheid moet mind, moet moisturise en genoeg water moet drink.

Maar hoe gereeld drink jy daai water? En weet jy wat daai water vir jou liggaam doen?

Dis nie net ’n bog­storie of ’n ou boereraat dat jy daagliks ag glase water benodig nie. Volgens die webwerf mycederberg.com bestaan ons liggame uit 60% water, waarvan 90% water in jou bloed voorkom. Wetenskaplikes het bewys dat, juis om dié rede, vroue elke dag 2,7 liter water moet drink.

Fantasties

Jou bloed is nie ál plek waar water sy vestiging vind nie. Die niere sowel as die lewer word elke paar ure deur water skoongespoel.

Die voordele wat ’n verfrissende glas water jou bied, is fantasties.

Dit help jou gewrigte om pynloos en gesond te bly, veral as jy baie aan sport deelneem of fisieke aktiwiteite verrig.

Verdere voordele sluit die vervoer van suurstof dwarsdeur die liggaam en beter breinfunksionering in. Water spoel alle toksiese afval uit die liggaam en sal jou gesond laat lyk en voel.

Wetenskaplikes het bewys dat water ook met gewigsverlies kan help omdat jy dikwels eintlik net dors is as jy honger voel.

Die webwerf bellamagsa.com lys die volgende voordele van genoegsame waterinname:

Voordele vir jou naels

Water is baie belangrik vir die strukturele welstand van jou naels.

Onvoldoende water-inname kan lei tot swak, verbrokkelde naels sowel as ’n droë, ongesonde naelbed. Dus is dit belangrik om genoeg water in te neem om te kan spog met mooi, versorgde naels.

Voordele vir jou vel

Water is uiters belangrik vir baie van die liggaam se sleutelprosesse, insluitende absorpsie, sirkulasie, vertering en uitskeiding.

Dehidrasie het ’n direkte impak op jou vel se toestand en dis noodsaaklik om elke dag genoeg water in te neem om jou vel te voed. Goeie hidrasievlakke help om die vel elasties en soepel te hou en dus die voorkoms van plooie en fyn lyntjies te verminder. ’n Goed gedehidreerde vel kry minder puisies en ongewenste breakouts!

Voordele vir jou hare

Jou hare kan ook dors raak! Wanneer jy gedehidreer is, begin jou lyf water terughou om sodoende jou belangrike organe teen dehidrasie te beskerm. Dehidrasie kan dus lei tot haarverlies, hare wat verdun en hare wat breek. As jy dus ’n natuurlike, gesonde haredos wil hê, is dit belangrik om soveel as moontlik water te drink.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters