2 maande gelede
Ag, dee! by deus is toe
Aaa-tiesjoe! Spoel daai neusholtes skoon met ’n mengsel van soutwater en koeksoda.  ~ 

SUKKEL jy en jou familie met sinus­probleme?

Ons het ’n paar wenke op Health24.com gekry wat jou kan help om daai lastige sinussimptome te beveg.

  • Drink meer water as wat jy gewoonlik drink om mukus (slym) te verdun. Die ander rede is dat sinusitis-medikasie ’n mens dors kan maak.

So, jy word aangeraai om minstens ag glase water per dag te drink, maar 15 tot 20 is ideaal.

  • Asem klam lug in van ’n bevogtiger of die stoom van warm water oor ’n wasbak.

Verhoog die humiditeit in jou huis, veral in die slaapkamers. As jy allergieë het, hou die humiditeit onder 50%, anders kan jy probleme hê met swamme en stofmyte.

  • Gebruik decongestants of mukusverdunners.

Decongestant neussproeimiddels kan tydelike verligting bied. Moet dit egter nie gebruik tensy dit absoluut nodig is nie. En indien wel, nie vir langer as drie dae nie, aangesien dit gewoontevormend is.

Vermy produkte wat antihistamiene bevat.

  • Neem aspirien, parasetamol of ibuprofen as jy ’n hoofpyn het.
  • Ondersoek die agterkant van jou keel om te kyk of jy postnasale drip het.

As daar slymstrepe is, gorrel met warm water om ’n seer keel te voorkom.

  • Slaap met jou kop hoër as jou lyf.
  • ’n Mengsel van soutwater en koeksoda help om mukus en bakterieë uit die neuskanale te spoel.

Gebruik ’n taamlike groot spuit (sonder die naald, natuurlik) om dié vloeistof versigtig in jou neus op te spuit.

Hou jou kop geboë om te verseker dat die oplossing tot in die boonste dele van jou neus vloei. Snuif dit in jou mond in en spoeg uit.

Herhaal dié proses so twee tot vier keer per dag.

  • Probeer om jou neus oop te hou sodat jy daardeur kan asemhaal. Daar is dubbel soveel lugwisseling na jou sinusse as jy deur jou neus asemhaal as deur jou mond. Voldoende lugwisseling verlaag die moontlike aanwas van bakterieë in die sinusse.
  • Vermy alkohol, want dit veroorsaak ontwatering, wat mukus kan uitdroog en verdik. Dit kan die neusholtes verstop en enige besmetting vererger.

Allergieë of sensitiwiteit vir rooiwyn, suurdeeg, sulfiete of ander komponente van alkohol, kan die probleem vererger deur ’n allergiese reaksie wat die neusholtes kan laat swel.

  • Die inaseming van bloekomolie kan ook help om die neus oop te maak.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters