8 maande gelede
Weer ’n positiewe uitkyk op ons land
PRES. Ramaphosa Foto:netwerk24  ~ 

A. de Bruyn van die Gamtoos skryf:

Vir die eerste keer in ’n lang tyd het Suid-Afrikaners weer ’n positiewe uitkyk op die lewe en voel hulle weer trots daarop om ’n Suid-Afrikaner te wees nadat Cyril Rama­phosa president van Suid-Afrika geword het.

Maar mense, nou moet julle ook verstaan, pres. Ramaphosa sal nie die land binne ’n maand of twee kan regruk nie.

Moet nou nie weer oor ’n maand kla dat Ramaphosa niks vir die land beteken en doen nie. Wees net geduldig.

Ten minste weet ons nou daar is nuwe hoop vir ons land. Hoop vir ons kinders. Al is dit nie môre of oormôre nie, maar werkgeleenthede sal geskep word en huise sal vir behoeftiges gebou word. Gee net tyd.

Ten minste kan Suid-Afrikaners nou saans met ’n geruste hart gaan slaap, wetend dat ander lande weer sal toustaan om in ons mooie land te belê.

Dalk is dit ook nou die tyd vir ál ons Suid-Afrikaners wat verkies het om eerder oorsee te gaan werk om terug te kom huis toe.

Ja, mense, opwindende tye lê voor vir ons as Suid-Afrikaners, maar soos ek vroeër gesê het, wees net geduldig.

Kom, laat ons mekaar se hande vat en ons nuwe president ondersteun.

Ons het mekaar nodig. Daar kan nie van net een mens verwag word om die land reg te ruk nie – dis ’n spanpoging.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters