4 maande gelede
BRIEWE: Plan om meer lewens te red
BOEI: Die skrywer glo dít kan lewens red.  ~ NSRI

Keith Blake van Ottery skryf per e-pos:

In die lig daarvan dat die feestyd amper weer op ons is en omdat ek graag van die strand af vis vang en gevolglik besorg is oor moontlike verdrinkings aan die kuslyn, het ek ’n bietjie navrae gedoen.

Ek wou meer weet oor seeredding vir die tye wanneer jy daai skrikwekkende uitroep hoor: “Help, iemand verdrink!”

Dryfgoed

In dié reddingsproses is tyd vir die slagoffer van die grootste belang.

Ek het gelees oor die Pienkboeiprojek van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI).

Daarvolgens word dryfgoed met tou en gebruiksaanwysings in areas geplaas waar daar byna geen menseredders is nie.

Dié boeie kan na die slagoffer van ’n potensiële verdrinking gegooi word of ’n dapper persoon wat hulle soos Wolraad Woltemade uit die water wil gaan help, kan dit gebruik om self nie sy lewe te verloor nie.

Dit is ’n briljante projek. Maar ek wil voorstel dié boeie moet ook in die voertuie van die polisie en ander wetstoepassers geplaas word, veral as daar see, riviere of groot damme in hulle omgewing is.

Sal dit nie ’n goeie idee wees sodat hulp spoedig aangebied kan word wanneer iemand in die water in die moeilikheid is nie?

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters