3 maande gelede
Gryp self jou toekoms aan
Merlyn van der Rheede  ~ LitNet

Merlyn van der Rheede van die Afrikaanse Taalraad skryf:

So staan nóg ’n jaar einde se kant toe. Ons besin oor dié jaar en dink aan Nuwejaarsvoornemens.

Jy maak lysies van alles wat jy graag in die nuwe jaar wil verander sodat jy op jou beste kan wees.

Sommige mense vind ’n mantra wat hulle hulle eie maak vir die nuwe jaar. Hoe lank dié goeie voornemens gaan hou, is ’n ope vraag.

Wat my aan die dink gesit het, is die woorde van Zozibini Tunzi, ons Mej. Heelal.

Beklemtoon

Sy sê: “Die belangrikste ding wat ons jong meisies deesdae behoort te leer, is leierskap. Dis iets wat lankal by jong meisies en vroue ontbreek, nie omdat ons onwillig is nie, maar oor die samelewing voorgeskryf het wat ons moet doen.”

Sy voeg by: “Ek het grootgeword in ’n wêreld waarin ’n vrou wat soos ek lyk, met my gelaat en hare, nooit as mooi beskou is nie.”

Dames, sy spreek tot elkeen van ons en wil so beklemtoon ons is in eie reg almal “mooi”, ongeag hoe ons lyk of die kleur van ons vel. Moet jouself nooit minder ag omdat jy dink ander is beter of “mooier” as jy nie!

Hoeveel jong meisies en vroue kraak hulself af omdat hulle voel hulle is nie slim, maer, ryk of “mooi” genoeg nie? Hulle vergelyk hulself met ander.

Sodra jy gemaklik in jou eie vel is, is jou uitkyk op die lewe ook positiewer en jy is ’n gelukkiger jy. Wees trots op wie jy is – daar’s niemand anders soos jy nie!

Onderskat

Wat my veral getref het, is haar woorde oor vroue en leierskap! Ek wil ’n beroep doen op elke jong vrou “to take up your space” in Zozibini se woorde.

Moenie dat enige iets of iemand jou terughou nie. Ken jou potensiaal en volg jou drome na met dringendheid.

Moet nooit jouself onderskat omdat jy ’n vrou is nie. Droom groot en weet dat jy tot enige iets in staat is.

’n Groot rolmodel van my, Michelle Obama, vrou van Barack Obama, die 44ste president van Amerika, is ook ’n groot voorstander van die bemagtiging van vroue en meisies.

Ook sy doen ’n beroep op vroue om hulle regmatige plek in die samelewing in te neem deur te sê: “Dit hoef nie jou doelwit te wees net om iemand anders te inspireer nie. Stel jouself eerste.” En: “Word meer as net iemand se vrou.”

Dit was van meet af aan duidelik, as gegradueerde van Princeton en Harvard, as prokureur en selfs as first lady, dat Michelle Obama geglo het in persoonlike ontwikkeling en haar daaraan gewy het.

Sy het geglo dis in haar om vas te stel wat haar lewensroeping is en om haar stem te laat hoor.

Sy is meer as net Barack Obama se vrou, meer as ’n ma en ’n dogter ... Sy word die vrou wat sy bestem was om te word!

Dis vir elkeen ’n inspirasie om te ontwikkel tot jou volle potensiaal. Maak dít jou Nuwejaarsvoorneme!

Armoede

Stap 1 sal wees om jou skool- en tersiêre opleiding te voltooi. Daar is instellings wat aan belowende studente beurse bied.

Slegs studies gaan jou uit armoede lig en jou help om ’n beter lewe te lei.

Droom groter as jou huidige omstandighede; jy moet daai wil hê om selfversorgend te wees en nie op ander staat te maak om na jou om te sien nie.

Kry ’n mentor, soos ’n leerkrag by jou skool, iemand met wie jy kan gesels as dit moeilik gaan en wat jou kan help om aan te hou en uit te hou. Vind uit wat jou sterk eienskappe is en ontwikkel dit.

Die belangrikste is: Wat is jou droom? Doen alles in jou vermoë om daai droom na te jaag en dit te verwesentlik.

Geniet die feestyd. Bly veilig en mag 2020 jóú jaar wees!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters