KAAPSE Vlakte gespanne, in gevaar
koes vir skote wat volg ná mekaar
dan uit die dag se gewone geskiet
skeur gille skielik deur die gebied!
Wanhopig ween ’n moeder in die wind
met arms styf om haar dooie kind
slap bondeltjie teen haar bors gedruk
verdwaald met oë vraend en verskrik.
’n Vrou klou vas en pleit onverpoos,
maar liggaampie lankal leweloos;
met skril stem en rou snikke saam
roep sy aanhoudend haar kind se naam!
Terwyl ons sukkel om rigting te kry,
vlieg koeëls nog skrams by ons verby
ons kruip al soekend in sirkels rond
’wyl ’n kind se bloed drup op die grond.
Bendes in beheer, bepaal en besluit
en terg ons selfs in ons treurigheid;
heers soos helde met hef in die hand
en spot oor die stelsel van ons land.
Gevul met vrees, verwerp en verlate
stagneer ons sidderend in siek strate
gebuk onder boosheid buite beheer
is die houe van onheil hard en seer.
Ons roep na die Here in die duister
om toe te laat dat ons leiers luister
hoop iemand hoor soos stemme verhef
voordat nóg ’n dwaalkoeël ’n kindjie tref ...