21 dae gelede
Destyds se spoke is al byna vergete
BOE! Die skrywer onthou ou geeste. Foto: A24  ~ 

Jasmine Uys van Athlone skryf per e-pos:

Na aanleiding van Salmon Smith se uitnodiging ’n tydjie gelede om oor ons dorp van herkoms se stories te skryf: Daar was baie legendes en gerugte van spoke destyds in my tuisdorp, Genadendal.

Toe ek nog ’n kind was, was daar nie elektrisiteit in Genadendal nie. Al ligte in die aande was die sterre aan die hemel en die maan, natuurlik, as dit maanskynaande was.

Vermaak

Die ou mense het allerhande gerugte gehad van ’n leeu wat saans daar rondloop, asook ’n afkop-donkie.

Daar was nie veel vermaak vir jong mense nie, maar oor naweke was daar wel vir ons ’n bioskoop.

Iemand wat een aand van die bioskoop af gekom het, het ook toe gesweer hy het op pad huis toe die afkop-donkie raakgeloop.

Om die donkie weg van hom te hou, het hy agterstevoor in die huis gekom en as beskerming ’n halfoop knipmes onder sy kop gesit toe hy gaan slaap.

Ek kan nou nie sê of dit gehelp het nie ...

Dan is daar ook die man wat claim hy is deur ’n spook verlei tot in die begraafplaas.

Hy was op pad huis toe van sy suster af toe dit gebeur het, volgens hom.

Hy het glo heel aand op en af geloop op soek na sy huis waar hy bly – totdat hy later in die begraafplaas beland het.

Nadat hy die “spook” uitgeskel het en byna die hele dorp deurkruis het, het hy uiteindelik in die vroeë oggendure by die huis aangekom.

Mettertyd, nadat die dorp begin uitbrei en elektrisiteit ensovoorts gekry het, het die “spoke” gewyk.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters