11 dae gelede
Bring bedorwe stemme uit
 ~ 

Bedorwe Stem van Blackheath skryf per e-pos:

Op 27 April het ons Vryheidsdag gevier, maar teen watter koste?

Die afskaffing van die doodstraf en lyfstraf.

Misdadigers wat meer regte het as wetsgehoorsame landsburgers.

Leerders wat opvoeders mishandel en selfs doodmaak.

Leiers wat die staatskas leeg steel met geen gevolge nie.

Korrupsie wat hoogty vier. En so kan ek aangaan.

Soos wat ons nader aan die stemdag kom, is daar partye wat nou belowe as hulle in die parlement kom, sal hulle veg dat die doodstraf en selfs lyfstraf weer ingestel word.

Laat ek dinge duidelik stel. Dit gaan by beloftes bly.

So, hoekom jou stem mors op ’n party wat niks sal kan uitrig nie?

Tweedens, hoekom vir ’n party stem wat ten gunste is van alles wat aan die begin van hierdie brief genoem is?

Die laaste paar jare skreeu Suid-Afrikaners dat die doodstraf en lyfstraf moet terugkom. Die regering se ore was doof en dit sal beslis nie nou skielik oopgaan nie.

Die spreekwoord “die massas sal besluit” bestaan net elke vyf jaar by die stembus, maar bestaan nie as die massas hulle stem dik maak nie.

’n Klassieke voorbeeld: Die massas het geskreeu dat Zuma moet loop, maar wat het die ANC gedoen? Absoluut niks nie.

Die ANC se oë het baie laat oopgegaan. Dit het eers gebeur toe hulle begin sien watter skade hy die party aanrig. Hulle het nie omgegee oor die skade wat hy die mense aangerig het nie.

Die DA doen niks beter nie. Hy ondersteun lyfstraf en die aftakeling van opvoeders deur leerders.

Hy ondersteun dat ons leerders met die laagste punte slaag en sodoende ’n mislukking in die toekoms word. Hy steun hoë erf­belasting en hoë watertariewe.

Ek gaan stem, maar nie vir die ANC of DA nie – en ook nie vir ’n kleiner party nie. Ek gaan ’n bedorwe stem uitbring. ’n Bedorwe stem kan nie getel word nie.

Ek stel voor ons almal doen dit. Bring miljoene bedorwe stemme uit.

Partye leef net vir hulle manifeste op stemdag en daarna word dit by die agterdeur uitgegooi.

Mense moet stem vir wat ’n party nou en in die toekoms kan doen en nie wat hy in die verlede vermag het nie.

Vraag? Watse goeie dinge het die ANC-regering die afgelope nege jaar onder Zuma verrig, behalwe om die Guptas te verryk?

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters