4 maande gelede
All Black-ondersteuners is moerig
Rodger Kortje
Rodger Kortje, voorsitter van die All Blacks-ondersteunersklub in die Wes-Kaap.  ~ foto verskaf

Rodger Kortje, voorsitter van die Wes-Kaap se All Black-ondersteunersklub, skryf...

GOEIE dag

Aan wie dit gaan

Graag wil ons, as stroewe All Black-ondersteuners in die Wes-Kaap, ons ongelukkigheid uitspreek teenoor SA Rugby. Nie net word die All Black-spanne in die Kaap, veral op Nuweland, sleg behandel en benadeel nie, maar ook hulle Suid-Afrikaanse ondersteuners.

Graag verwys ek na die afgelope Saterdag waar die Crusaders ontneem is van 'n oorwinning teen die Stormers. 'n Goeie agterlynbeweging word van stapel gestuur en 'n pragtige drie word gedruk. Met almal reeds agter die pale beweer ons plaaslike TMO dit is 'n vorentoe-aangee en ons word van 'n pragtige oorwinning ontneem.

Om alles te kroon word die Crusaders-spelers na afloop van die wedstryd deur sekuriteit verhoed om nie met hul ondersteuners te kommunikeer of om handtekeninge en foto's uit te deel nie. Selfs wanneer spelers terugbeweeg na hulle bus word toeskouers ook verhoed om met die spelers te kommunikeer.

Hierdie tendens speel hom elke keer af as daar spanne vanuit Nieu-Seeland in Kaapstad speel wat ons as ondersteuners warm onder die kraag maak. Soos SA Rugby wil hê ondersteuners van Suid-Afrikaaanse spanne moet hul dag geniet met hulle sterre, so wil ons, as die Wes-Kaapse All Black-ondersteuners behandel word.

Ek glo dat ons ook 'n reg het om ons uit te leef ten opsigte van ons voorkeure vir wie ons ondersteun, maar hier word dit van ons ontneem.

Ek glo dat die Highlanders, wat komende Saterdag teen die Stormers speel, sekerlik ook dieselfde behandeling sal ontvang en met die skeidsregters en TMO sal moet meeding.

Ons as All Black-ondersteuners vra vir die nodige respek en om ons reg op Nuweland uit te leef en ons ondersteuning te gee aan spanne van ons keuses.

Ek glo dat ons 'n groot groep ondersteuners in die Wes-Kaap is wat nie meer hierdie behandeling sal verdra wat ons in die Kaap nie. Ons is deel van die groot groep wat die geldkoffers van SA Rugby vul. As ons besluit om 'n wegbly-aksie te loods, sal die pawiljoene van Nuweland na ons vra.

Ek glo dat dit verhoed kan word as ons die erkening kan kry wat ons verdien. Ek wil net noem dat ons reeds meer as 50 klubs regoor die Wes-Kaap het en as ons as 'n politieke party moet staan, sal ons sekerlik meer setels as die ANC in die provinsie kry.

Ek hoop dat ons die naweek sonder enige onsmaaklikheid die rugby kan geniet.

Baie dankie.



            
Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters