8 dae gelede
1 sekonde nie genoeg bewyse vir rassisme
schweizer-reneke
 ~ 

Fanie Bouwer skryf op Son se Facebookblad:

Dis nie die eerste keer wat een sekonde in ‘n skooldag van 6 ure gebruik word as afdoende “bewys” van wit rassisme nie.

Dit sal ook nie die eerste keer wees wat ‘n juffrou, skool en hele gemeenskap se naam onskuldig deur die modder gesleep word nie. Ek kies nie instinktief hulle kant omdat hulle Afrikaans is nie. Ons voorlopige ondersoek wys dat die juffrou bo redelike twyfel totaal onskuldig is.

Moet ook nie vir my sê sy moes “slimmer as dit” gewees het voordat jy feite het nie. Lees weer my stukkie oor die een sekonde. Graad juffrouens is liewe mense wat vir kinders omgee, ook vir die wat in hul klassies inkom wat nie ‘n woord Afrikaans of Engels kan praat nie.

Graad juffrouens is nie opgeleide politici of joernaliste nie. Dis ‘n belangrike rede hoekom ons Afrikaanse skole nog so goed is. Hulle wil nog kinders as burgers opvoed, nie as aktiviste opvoeter nie.

As ons samelewing so onverdraagsaam is dat iemand nie in goeie trou ‘n klassie kan afneem nie, raak dit totalitêr. Dis wanneer nie net jou dade dopgehou word nie, maar jou denke gemonitor word. Dan is daar net een Wet: Dit wat nie verbode is nie, is verpligtend.

Elke klas in die land kan nie heeldag deur die denkpolisie dopghou word nie, daarvoor is daar strukture soos die hoof en beheerliggame wat sake moet hanteer. As daar iets verkeerd is moet hulle dit hanteer, en as hulle dit nie doen nie kan die betrokke owerhede betrokke raak.

Maar nou spring almal op hulle af, vanaf die politici, departement, menseregtekommissie en politieke hiënas was publisiteit soek. Kom ons wees eerlik, as dit anders om was, wat het dan gebeur? Nou word ál daardie kinders traumatiseer.

Ek sê weer, dis nie die eerste keer nie. AfriForum moes al vorige kere binne minute veiligheidmense reël om rasserampokkers te keer om kinders te beseer toe Lesufi ‘n onskuldige Kleuterskooltjie se naam swartgesmeer en hul adres op sosiale media publiseer het. Nog nie een keer was die juffrou of skool later skuldig bevind nie, maar nog nie een keer het iemand al daarna om verskoning gevra nie. Die ware rassiste is gewoonlik diegene wat eerste die rassekaart speel.

Dis hoekom Solidariteit en AfriForum die Afrikaanse mense wat verontreg word sal bystaan, omdat daar dubbele standaarde is, magtiges teenoor magloses, en die magshebbers en meeste mediabaronne Raka se rassetamboere slaan. Ons probeer balans bring en die “klein mensies” wat die land aan die gang hou beskerm.

Witmense wat die Juffrou nou so brandstapel toe sleep om te wys hoe proggressief hulle is, moet versigtig: julle is dalk die volgende slagoffer van ‘n onskuldige voorval wat uit verband geruk word. Julle sal nie die eerstes wees wat “klein mensies” vir die Krokodil voer in die hoop dat hy julle laaste eet nie. Pasop, julle maak hom groot, en hy gaan vir julle ook kom. Julle sal maai wat julle paai.

Aan die DA se woordvoerder wat met die een oog op die komende verkiesing sommer saam voor op die rassewa spring- een woordjie van advies. Die klein politieke mark wat rassisme wil koop, sal die ‘ware Jabob” by ‘n betroubare Groothandelaar soos die ANC of EFF aanskaf, nie by ‘n Wannabe Rasse kleinhandelaar wat tweedehandse ware smous nie. Bly by julle liberale beginsels, en moenie dink julle kan die ANC/EFF “uitras” nie.

My vraag is of hierdie onverdraagsaamheid waar ‘n foto tot ‘n voorblad opgeblaas word, die soort samelewing is wat ons wil hê? Dis een waar almal heeltyd bang is om iets verkeerd te sê of te doen, waarin niemand meer vry is nie, waar almal weet jy kan gekruisig word sonder verhoor.

Dan word die land ‘n plek soos die nagmerrie wat Peter Godwin in sy boek oor Zimbabwe (When a Crocodile Eats the Sun) skryf: “A white man in Africa is like a Jew everywhere, on sufferance watching warily, waiting for the next great tidal swell of hostility.”

As hierdie tipe ding ‘n mikrokosmos is van wat die land besig is om te word, is diegene wat gedink het ‘n multikulturele gemeenskap kan werk verkeerd. Want as multikulturele gemeenskappe té groot risiko’s inhou vir kindertjies se veiligheid, en selfs ‘n klasfoto tot ‘n ontploffing kan lei, sal ander oplossings gevind moet word.

Ons kinders se toekoms is té belangrik om aan ekstremiste oor te laat wat kindertjies sal opvreet vir ‘n politieke brêkfis.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters