Verlede jaar
Toekoms van ANC en land is op die spel
 ~ 

IN MY lokasie is daar ’n spreekwoord: Die hond is los . . . gee die hond sy kos.

En dit is presies wat nou besig is om te gebeur in die aanloop tot die verkiesing van die nuwe leier van die ANC.

Nie Gupta-gate kon die ANC skeur nie. Ook nie Nkandla-gate, die Staatskaping-gate of enige ander obskure flop van die regerende party nie.

Daar was weliswaar baie pogings, maar soos die Engelse uitdrukking lui: Fools have tried and wise men have failed.

Maar dié keer het die ANC soos nog nooit tevore in sy 105-jarige bestaan voor so ’n potensieel vernietigende keuse te staan gekom nie.

Die ANC-leier wat in Desember verkies gaan word, word reeds nou al verkies. Maar dit gaan oor meer as net die verkiesing van die ANC-leier. Die toekoms van die ANC én die land is op die spel.

Dit gaan oor ’n renaissance van die land se ekonomie, groei, werkskepping en die herstel van wêreldvertroue in ons land.

Onthou, die leier wat vanjaar verkies word, gaan die land, of liewer die ANC, lei tot in 2019.

Dus sal hy of sy moet regmaak wat die ANC onder die heer Gedleyih­lekisa Zuma opgemors het.

En dis ’n tall order. Anders sink die ANC once and for all.

Verder sal dit interessant wees om te sien of Zuma en die nuut verkose leier twee jaar lank sal kan saamwerk.

En sal die nuut verkose leier vir Zuma kan overpower? Want dit is wat van ’n sterk leier verwag word.

Die regering voer tog die ANC- beleid uit. Dan nie? So, die 2017-leier sal genadig die voorreg hê om twee jaar lank sy stempel af te druk.

Die opvolgstryd gaan vieslik wees, glo my.

Dit het die vermoë om die ANC te kan skeur. Sou hierdie worst case-scenario gebeur, is dit die einde van die ANC.

So speel die party in die hande van die opposisie. Sien ek al iewers iemand in blou glimlag soos ’n kat wat room gesteel het?

En glo my, sommige media gaan ook ’n groot rol speel om die opvolgstryd aan te wend om pandemonium in ANC-geledere te saai.

Sommige mediamaatskappye het ’n duistere agenda.

Dis deesdae hoog mode om negatief te skryf oor die regering en die ANC.

Nie dat ek die reg misken om te kritiseer nie.

Glo my, robuuste debat lê aan die hart van enige ware demokrasie.

Terug na die kandidate: Daar is myns insiens net twee groot name: Cyril Ramaphosa en Nkosazana Dlamini-Zuma. Tog het verskeie ander name soos dié van Baleka Mbete, nasionale voorsitter van die ANC, en dr. Zweli Mkhize, tesourier-generaal van die ANC, ook opgeduik om die proses net verder te verongeluk of te verdeel.

Sal die wenner dalk ’n verdeelde ANC erf?

By Ramaphosa kan verskeie blokkies afgetiek word: Sakeman. Kenner van die ekonomie. Sterk leier (onthou sy bynaam in die NUM – King of spades). Onderhandelaar. Man met aansien op wêreldverhoë. Hy het die steun van Cosatu en die SAKP. Grondwetkenner. Presidensieel.

Dlamini-Zuma is ’n leier in eie reg met die steun van sterk ANC-organisasies: Vroueliga, Jeugliga en die premiersliga.

Maar as politieke kandidaat het sy nie die charisma wat die meeste van haar teenstanders het nie.

Dit tel egter in haar guns dat sy ’n Zuma is. Tog is sy ’n politikus in eie reg.

Kies die ANC in Desember op sy verkiesingskonferensie verkeerd, skryf hy sy eie grafskrif en plaas hy die land in ’n onbenydenswaardige posisie.

Die politieke aasvoëls wag . . .

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters