Verlede jaar
SA politiek is beslis nie vir sissies nie
 ~ 

DIE realiteit van die Suid-Afrikaanse politieke landskap is dat dit nie uitgeknip is vir sissies nie.

Dit skryf ek hier teen die agtergrond van lesers se “kwaai” reaksie op my rubriek “Magsbeheptheid van die DA” in dieselfde spasie.

Gelukkig het die geskiedenis my geleer: ’n Generaal klim nie van sy perd af vir elke brak wat blaf nie. Want sien, die een groep se hoenderhaan is die ander groep se verestoffer!

Cowboys don’t cry.

Toe ek in een van die vorige “Blog jou ore” geskryf het dat Helen Zille of Mmusi Maimane reeds in 2019 president van die land kan wees, kon die imbongi’s nie genoeg lofprysinge vir die uwe sing nie. En wil ek vandag hier verklaar soos ’n Pilatus van ouds: “Wat ek geskryf het, het ek geskryf.”

Terwyl die DA-gesinde lesers die uwe lof toegeswaai het – “ons is bly jou oë het oopgegaan” – het die ANC se krygers die uwe met spiese gesteek.

“Verraaier, ons het nooit gedink jy sou die struggle so vertrap nie,” was een van die persoonlike boodskappe wat met die skerpheid van spiese my vingers deurboor het.

Die ANC slaap soos Vader Jacob (Zuma) nog in ’n droom van “Ons gaan regeer tot Liewe Jesus kom”.

Tog was dit – die moontlikheid om ’n DA-president in die Uniegebou te hê – die politieke gesprek wat in September aan die orde van die dag was.

Die media het die vermoë om met mense se grysstof te smokkel. Veral in die huidige samelewing is dit meer as ooit waar.

Hoeveel keer het die media nie al “Zuma se einde” verklaar nie?

Dit was ’n politieke uitspraak sonder substansie.

Verder is dit ook ironies hoe die media al gehunker het – in hul skrywes – na rommelstatus vir die land. Ai, waar woon hulle dan? Maar nou ja, elkeen het die reg op ’n opinie en dit sal ek help beskerm tot die dood toe, al beteken dit kritiek teen die self.

Vryheid van spraak, sonder om lasterlik te wees. Die media en ook nie die lesers mag gemuilband word nie.

So, stuur die SMS’e, hou die gesprek aan die gang!

Dit is soms soos water op ’n eend se rug.

Dat daar in hierdie ruimte ook geskryf is die DA se magsbeheptheid maak hom ’n oneffektiewe opposisie, is waar. Wat ek geskryf het, het ek geskryf.

Net soos die DA-gesinde lesers beskuldigings slinger van ’n politieke onderrok wat uithang (ek dra nie eens onderrokke nie), net so het ander politieke groeperinge ook hul opinie.

Alles word bepaal deur die opinie wat elke leser vorm.

Oor die opinie dat die DA magsbehep is, was daar uiteraard ongelukkigheid binne sy geledere.

Inderdaad was die DA weer in die wolke, maar het hy in gebreke gebly om sy “tevredenheid” by wyse van skrywes in die koerant uit te basuin.

Daarvoor salueer ek die DA se media-aktiviste, want die ANC- gesinde lesers swyg elke keer in al 11 amptelike landstale.

Daar het ’n gemaksugtigheid onder hulle posgevat.

Dis ’n virus wat die DA se opposisie van binne vernietig en die pad na die Unie­gebou vir hulle plavei.

(Sal die ANC-gesinde lesers my nou weer ’n slag in die koerant kritiseer?)

Politiek is nie vir sissies nie. Politieke kenners (en ek is nie een nie) is stomgeslaan oor hoe die DA en die EFF, byvoorbeeld, in een kooi slaap . . .

Maar dit is die versugting om te regeer wat die swaarste weeg.

Wie ook al Suid-Afrika ná 2019 gaan regeer, sal nie in koerante bepaal word nie, maar deur besoeke van aktiviste in die huise van kiesers.

Stry maar weer?

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters