Verlede jaar
Rowwe jaar lê voor op ál ons kampusse
 ~ 

AS JY gedog het daar is die afgelope twee jaar chaos op Suid-Afrikaanse kampusse, dan moet jy jou staal vir wat volgende jaar gaan gebeur.

Luidens syfers wat dié week bekend gemaak is, sal tot 170 000 voornemende studente in 2017 landwyd aan universiteite plek soek. In gewone omstandighede is daar egter net 115 000 plekke.

Normale omstandighede sluit in diegene wat nie die vorige jaar plek gekry het nie of ’n gap-jaar gevat het, asook diegene wat vir ’n aantal jaar gewerk het, maar nou besluit het om verder te studeer.

Dan is daar diegene wat in die eerste plek nie gekwalifiseer het nie, maar nou wel toelating het.

Nadat die #FeesMustFall-betogers gesorg het dat studente se jaar opgemors word en kampusse afgebrand is, gaan daar ’n toestroming wees vir plasing aan die universiteite, wat dié getalle eenvoudig nie sal kan absorbeer nie.

Dit is ’n inploffing van die hoër onderwys waarvan die impak vir geslagte gevoel sal word. Daarby sal 41% wat diegene wat wel die binnekant van ’n universiteit sien, opskop. En 60% van daai syfer skop in hul eerste jaar al op.

Dit gee jou ’n prentjie van die duisende jong mense wat elke jaar die arbeidsmark probeer betree.

In die parlement het dr. Pali Lehohla, statistikus-generaal, die aantal swart studente wat gradueer teenoor die aantal wit studente wat gradueer, as “afgryslik” beskryf.

Sy finansiële statistieke vir 2015 dui aan vir elke ses wit studente wat gradueer, voltooi net een swart student sy of haar studies suksesvol. Dit behoort jou ’n idee te gee hoe swart studente – wat boonop nog besluit om te betoog en hul akademiese jaar op te mors – hulself in die voet geskiet het.

Om dié duisende studente elke jaar op universiteit te hou, kos sowat R65.5 miljard, insluitend die R26.2 miljard wat die staat bydra.

Van die R65.5 miljard word R15.8 miljard op studente gemors wat in hul eerste jaar opskop. Dis meer as die tesourie se toekenning van R14.6 miljard vir beurse en lenings via die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS).

Hierdie donker prentjie kom op die rug van die werkloosheidsyfer wat dié week bekend gemaak is – die hoogste in 13 jaar.

Dit is nou 27.1% van die SA bevolking wat aktief werk soek.

Indien diegene wat hoop opgegee op ’n werk bygewerk word, dan is die syfer 36.3%.

Die SA ekonomie is tegnies in ’n resessie en groei glad nie. Die ekonomie skep dus nie beduidende werksgeleenthede nie.

Hierdie syfer kan aansienlik groei wanneer studente bygevoeg word wat in afwagting van die onrus wat kan voortduur, net tou opgooi en eerder gaan werk soek.

Dieselfde geld gr. 12’s wat om dieselfde rede net eenvoudig nie moeite gaan doen om verder te studeer nie.

Ten einde noemenswaardige groei te toon, moet ’n land genoeg afgestudeerdes in die arbeidsmark stoot. Hulle moet dan in die vraag na nodige deskundiges soos onder andere ingenieurs, argitekte en dokters voorsien.

As daar nie plaaslik genoeg deskundiges met skaars vaardig­hede is nie, moet ’n land hulle invoer.

Suid-Afrikaners moet hulself afvra tot watter mate gewone burgers vir dié toedrag van sake verantwoordelik is.

Dis maklik om die regering en politici vir swak besluite te blameer, maar as ons die land uit dié ekonomiese moeras wil red, moet almal skouer aan die wil sit.

Ons moet minder op die staat steun of hom blameer vir ons finansiële besluite en behoeftes. Ons moet maniere vind om werk te skep en meer verantwoordelikheid vir ons kinders se toekoms neem deur geld weg te sit. Ons moet dit nie op onnodige uitgawes mors nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters