Verlede jaar
Rassisme is groot wenner met Trump

VIR diegene wat die internasionale politiek objektief dophou, is daar ’n duidelike parallel tussen verskillende wêreldgebeure te trek.

Eerstens was daar die groot aantal stemme (25%) vir die verregse party National Front van Marine le Pen in Frankryk se munisipale verkiesings in 2014.

Toe volg Brexit waar kiesers in Brittanje in ’n referendum besluit het om van die Europese Unie (EU) weg te breek.

Die Brexit-kamp is gelei deur die UKIP (United Kingdom Independence Party), ’n verregse party gelei deur Nigel Farage.

Nou het Donald Trump die verkiesing in Amerika gewen.

Trump, die kandidaat van die konserwatiewe Republikeinse Party, het van meet af aan die steun geniet van verregse en nasionalistiese groep, soos die Ku-Klux Klan.

Die gemene deler by hulle almal is natuurlik hul haat vir immigrante, veral uit Asië, Afrika, die Midde-Ooste en in die geval van Amerika, ook uit Suid-Amerika.

Weens oorloë en onrus in dele van Asië, Noord-Afrika, Afgani­stan, Sirië, Jemen en Irak, is daar ’n toestroming van vlugtelinge uit dié dele van die wêreld na Europa, Noord-Amerika en Brittanje.

In Brittanje is daar reeds jare ’n ongelukkigheid tussen wit Britte en immigrante uit Pakistan, Indië en die Karibiese Eilande.

Ná die toetrede van Oos-Europese lande soos Pole tot die EU, het duisende Pole na Brittanje gestroom op soek na werk. Dit het nasionalistiese Britte kwater gemaak.

Die vlugtelingkrisis in Europa het hul pot laat oorkook omdat die EU geëis het alle EU-lande moet vlugtelinge inneem. Daarom toe die uitslag van die referendum bekend word, was daar onmiddellik aanvalle op immigrante.

Frankryk beleef net so ’n groot toestroming van immigrante uit die Midde-Ooste en Noord-Afrika en is reeds verskeie keer deur terreurgroepe geteiken. Franse nasionaliste het genoeg gehad en kan in die nasionale verkiesing van 2017 die oorhand kry.

Trump se verkiesingsplatform is deur ’n anti-immigrante-boodskap gelei. Hy het belowe om onwettige immigrante te deporteer en ’n muur op die grenslyn tussen Amerika en Mexiko te bou om onwettige immigrante uit te hou.

Onder die dekmantel van die bekamping van terreur het Trump ook belowe om Moslems te verbied om Amerika binne te gaan.

Die eerste mense wat Trump met sy oorwinning gelukgewens het, was Nigel Farage van die UKIP en Le Pen van National Front. Die wenner in al drie gevalle was rassisme.

Die wêreld ná die Trump-sege is een waarin rassisme, xenofobie en nasionalisme hoogty vier.

Oral in Europa, Brittanje, Amerika, Kanada, Australië en Nieu-Seeland kan ons ’n oplewing in nasionalistiese geweld teenoor immigrante en vlugtelinge verwag soos laas gesien voor die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog.

Vir ons in Suid-Afrika is dit ook nie goeie nuus nie. Trump het reeds belowe hy gaan alle verdrae en ooreenkomste, insluitend handelsverdrae, hersien. Sy doelwit is om vervaardiging in Amerika aan te moedig en werksgeleenthede binne die land te behou en te skep.

Ons kan ’n hersiening verwag van die Africa Growth and Opportunities Act (Agoa), wat verskeie Afrikalande tariefvrye uitvoer op sekere produkte na Amerika gee.

Suid-Afrika, wat die grootste uitvoerder na Amerika is, kan sleg geraak word. In ’n regse Amerika gaan Afrika nie ’n prioriteit vir Trump wees nie.

Soos in die dae van Ronald Reagan, gaan Trump Afrika laat begaan en slegs betrokke raak wanneer dit Amerika regstreeks raak. Dit is nou ’n kwessie van wag en kyk.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters