Verlede jaar
Ons mense moet by spaza-eienaars leer
 ~ 

DIT gaan nie goed met die land se ekonomie nie, maar dis ook nie veel beter in die res van die global village nie.

En met die werkloosheidsyfer wat stadig maar seker op pad is na 9 miljoen toe, is dit verstaanbaar waarom mense sleg slaap. Nie eens Pravin se Groothand kon iets effektiefs en werkbaars op die tafel sit om werkloses te troos nie.

Tog merk ek op dat dit meestal “buitelanders” is wat op hul eie werk skep en entrepreneurs is.

Dis merkbaar in die “derde ekonomie” van die informele en semi-informele, klein en mediumgroot sakesektor in ons vryemarkstelsel.

Ek is geen ekonoom nie, maar hoef ook nie een te wees om te merk hoe hulle in ons townships geld maak en hoe ons mense geld uitgee nie.

Maar of ons nou daarvan hou of nie, dit is hul bydrae tot die olie op die wiele van ons ekonomie.

Terwyl derduisende Chinese hul ondernemings vanuit die sentrale sakekern bedryf, tref ons die sakelui uit Afrika in ons townships aan.

’n Besoek aan ’n groot Chinese besigheid – China Town by die mall in Parow – het my laat besef dié mense het hul navorsing in Afrika goed gedoen.

Daarom voorsien hulle in feitlik die laaste behoefte in Afrika.

Hierdie groep het die “klein” reeds jare gelede ontgroei.

En tog het goedkoper klere uit China die mark oorspoel en ’n negatiewe uitwerking op die SA klerebedryf gehad. Derduisende werkers is al uit diens gestel.

Snaaks hoe ons mense liewers ’n deel van hul werf aan Somaliërs, Nigeriërs, Pakistani’s, Ethiopiërs of watter buitelanders verhuur.

Ek praat van die magdom blikwinkels, huiswinkels en spaza shops wat soos paddastoele oral in ons townships verrys.

Skielik hoef die kinders nie meer ver te loop om ’n pakkie suiker te gaan koop nie. En dit knou tog ons groter winkels.

Het ons te lui geword om self vir hersonering aansoek te doen en ’n eienaar van ons eie blikwinkel te word? Ons is tevrede met die krummels van huurgeld terwyl my vriend Abdifata met die pak geld bank toe stap. Hy betaal ook nie juis belasting nie.

Soos dit deesdae lyk, het die huiswinkels hulself al in ’n soort kettingwinkelgroep ontwikkel. Kyk maar hoeveel informele winkels se name eindig met “shop”.

Ek weet van ’n groot huiswinkel wat as die Mall Shop bekend staan en van ’n kleine met die naam Baba Shop. Dit is alles in ons townships.

Hulle lewer tog ’n diens. Daarom is die xenofobie teen dié handelaars in die meeste gevalle niks anders as jaloesie nie. Waarom kan ons nie hul wenresep toepas en ons eie ding doen nie?

Lindiwe Sisulu, minister van kleinsake-ontwikkeling, het al in 2015 erkenning gegee aan dié mense se sukses en ’n beroep op hulle gedoen om hul sukses met Suid-Afrikaners te deel.

Die groot vraag is: Skep hulle werk . . . of net werk vir hul eie land se mense? Verloor Pravin geld op inkomstebelasting en BTW?

Nou, hoe doen hierdie entrepreneurs hul ding en waarom is hulle so suksesvol?

Volgens ingeligte bronne vertrou en ondersteun hulle mekaar. En hulle is beslis nie lui nie. Al moet hulle tot laatnag oop bly om R50 te maak, dan doen hulle dit.

Hulle verkoop in klein hoeveelhede, soos een sakkie koffie, ’n koppie visolie of asyn. En, mense, hul winkels is ge-stock. Jy kan enigiets in hierdie “malls” kry.

Jy staan nie in rye en wag nie, en hul diens is flink en vriendelik.

Die uitdaging vir werkloses is om die suksesverhaal van die buitelandse informele sakemense of sakesektor te bestudeer en toe te pas. Dis ’n bewese suksesverhaal. Sal ons in die afsienbare toekoms ’n merkbare verandering in dié sektor sien?

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters