8 maande gelede
Media word pimpel, pers gedruk – oral
 ~ 

WÊRELDWYD het die joernalistiek die laaste tyd tragiese oomblikke beleef.

Die grootste tragedie is sonder twyfel die moord op Jamal Kha­shoggi in die Saoedi-Arabiese konsulaat in Istanboel begin Oktober.

Die storie loop steeds en sal nog maande nuuswaardig wees – daarvan gaan Turkye se president, Recep Tayyip Erdogan, seker maak.

Nie dat Erdogan ’n groot vegter is vir persvryheid nie. In Turkye is hordes joernaliste opgesluit omdat hulle bloot hulle werk doen.

Die ander twee lande waar joernaliste maklik opgesluit word, is China en Egipte.

Dit lyk of joernaliste oral in die wêreld moeilike tye beleef.

In September het Mianmar se regering twee Reuters-joernaliste vir sewe jaar tronk toe gepos vir die oortreding van “wetgewing op staatsgeheime”.

’n Joernalis van Al Jazeera, ’n uitsaaier in Katar, is al byna twee jaar in ’n Egiptiese tronk oor hy kastig vals en lasterlike inligting omtrent dié land versprei en glo geld daarvoor ontvang het.

Ander joernaliste was nie so gelukkig nie. Minstens drie het met hulle lewe geboet oor hulle ondersoekende joernalistiek dinge te warm gemaak het vir óf regeringsamptenare óf rampokkers.

Verlede jaar het Daphne Caruana Galizia van Malta gesterf toe haar motor opgeblaas is. Die Bulgaarse joernalis Viktoria Marinova is begin Oktober verkrag en vermoor. Daar word gegis haar dood het met haar berigte te doen.

Die Slowaakse joernalis Ján Kuciak en sy vriendin is begin vanjaar vermoor. Hy het belastingbedrog in sy land ondersoek.

Al drie moorde is in die Europese Unie gepleeg. Dié wêrelddeel plaas altyd klem op persvryheid.

In Mexiko word joernalistiek as een van die gevaarlikste beroepe beskou. In September is Mario Leonel Gómez Sánchez voor sy huis doodgeskiet. Dit was ’n hit deur een van die vele dwelmkartels daar.

Maar joernaliste is ook in Amerika, die wêreld se eiegeregtige demokrasie, in gevaar. Pres. Donald Trump het laas maand ’n thumbs up gegee toe die Republikein Greg Gianforte die joernalis Ben Jacobs van die Britse blad The Guardian te lyf gegaan het.

Onlangs het ’n vurige Trump­ondersteuner na bewering pypbomme na 13 prominente Demokrate gestuur, onder wie oudpres. Barack Obama, die voormalige presidentspaar Hillary en Bill Clinton, en John Brennan, ’n voor­malige CIA-baas.

’n Pypbom is ook gestuur na die restaurant van die akteur Robert de Niro.

Nog ’n bom is na CNN se kantore in Washington gestuur.

Ná Cesar Sayoc se arrestasie het Trump aangevoer sekere Amerikaners raak militant weens die hoofstroommedia se aggressiewe verslaggewing.

En op 27 Oktober het die Trump-aanhanger Robert Bowers by ’n sinagoge in Pittsburgh ingestap en 11 Jode afgemaai.

Die Suid-Afrikaanse media het sy fair share van intimidasie ervaar, veral tydens die oopvlekking van die sogenaamde staatskapingstyd.

Onlangs moes die Sunday Times verskoning vra vir twee fake stories – een oor ’n beweerde rogue unit by die SA Inkomstediens (Sars) en die ander oor hit squads in Cato Manor. Die joernaliste wat dié stories geskryf het, is om die bos gelei deur hulle bronne, wat deel is van ANC-faksiepolitiek.

Op 3 November 1884, 134 jaar gelede, is die eerste koerant deur ’n swart Suid-Afrikaner, John Tengo Jabavu, uitgebring. Die Imvo Zabantsundu (Opinie van die Mense) het in King William’s Town die lig gesien. Imvo Zabantsundu het in 1998 toegemaak.

In ’n gesonde demokrasie is daar ’n simbiotiese verhouding tussen die media en die burgers.

Die rolspelers moet mekaar respekteer om te verseker die demo­krasie word nooit ondermyn nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters