Verlede jaar
Maimane moet nou vir Zille repudieer
 ~ 

EK WONDER of die DA se onervare en seremoniële leier, Mmusi Maimane, die moed, wil of vermoë het om sy party se “loskoppe” soos Solly Msimanga en Helen Zille in toom te hou en te temper.

Maimane (36), ook ? pastoor in die konserwatiewe Liberty Church in Johannesburg, is ongetwyfeld “onervare” omdat hy eers in 2014 ’n parlementslid geword het en in Mei 2015 tot DA-leier verkies is omdat Zille, voormalige DA-leier, glo daarop aangedring het dat hy haar as leier opvolg.

Selfs buite die parlement het hy nie veel ervaring nie, want hy is in 2011 tot ’n Johannesburgse stadsraadslid verkies.

Hy is ? “seremoniële leier” omdat hy net die “swart gesig” is van die DA wat hom dienstig gestel het om swart stemme te trek om regse belange te bevorder. Zille, Wes-Kaapse premier, is die de facto-leier en James Selfe, voorsitter van die DA se federale raad, is eintlik die parlementêre leier of leier van die amptelike opposisie.

Maimane is ? lewendige spreker sekerlik vanweë sy ervaring as prediker, maar sy toesprake is met substansie dun gesaai. Hy klink meer en meer soos ’n populistiese leë blik.

Kort ná sy verkiesing as DA-leier in 2015 het ek geskryf: “Mmusi Maimane is op dieselfde plek as wat die Britse Arbeidersparty in 2010 met Ed Miliband was – tussen die duiwel en die diepblou see.”

Niks het intussen verander nie.

Trouens, Maimane word meer seremonieel, terwyl jong wit Engelse mans, met Ikeys- of Wits- akademiese grade, die DA verder regs druk om (wit?) minderheidsbelange te bevorder.

Die DA is koersloos sonder enige werkbare idees om antwoorde vir die komplekse politieke, maatskaplike en ekonomiese uitdagings ná apartheid te bied.

Sy teenstand teen die regering se voorgestelde minimum loon van R3 500 is ? absolute skande en getuig van sy politieke skynheiligheid omdat hy voortdurend die intellektuele vermoë van die armes onderskat.

Msimanga en Zille het tot in die onlangse verlede die DA groot skade berokken.

Die jongste DA-flater is Msimanga, uitvoerende burgemeester van Tshwane, se besoek aan Taiwan se hoofstad, Taipei. Dié besoek is lynreg teen die regering se buitelandse beleid wat nie die Taiwanse regering erken nie.

Dié beleid – om die Volksrepubliek van China te erken as wettige regering van die gebied waar­onder Taiwan ook val – is in 1998 deur oudpres. Nelson Mandela ­bekragtig.

Ironies genoeg probeer die DA en die Afrikaanse media – wat besaai is met huigelary, politieke korrektheid en intellektuele oneerlikheid – Msimanga se minagtende houding teenoor die Grondwet en die regering se buitelandse beleid met absurde denke en drogredenasies regverdig.

Die vertrekpunt van die argument is dat alle regeringstrukture, insluitend DA-beheerde munisipaliteite, die nasionale regering se (buitelandse) beleid moet erken en respekteer.

Enige aantygings dat die regering korrup is of dat Msimanga in die belang van werkskepping Taiwan besoek het, moet tot die periferie gereduseer word omdat dit niks met dié debat te doen het nie.

Suid-Afrika is ’n eenheidstaat en nie ’n federale staat nie. Provinsies en munisipaliteite kan dus nie ? beleid wat teenstrydig met nasionale beleid is, beoefen nie.

Al sou ons ’n federasie gewees het, word beleid deur die regering bepaal.

Intussen wag ons dat Maimane vir Zille in die openbaar repudieer of haar dissiplineer vir haar onverantwoorde­like gedrag op Twitter.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters