2 maande gelede
Grondkwessie moet volle aandag kry
 ~ 

GESPREKKE om die meeste wit boere se etenstafels gaan deesdae seker nie nét oor markpryse nie, maar ook oor die toekoms as hulle die “slagoffers” van grondonteiening sou word.

In my geestesoog sien ek hoe bruin en swart plaaswerkers reeds van vroegdag op die plaas woel en werskaf.

In stede en gehuggies vervloek plakkers die blikkiesdorp waarin hulle jare gelede hok opgeslaan het.

Ons leef in ’n land van kontraste en daagliks word die prentjie steeds ingekleur.

Die grondkwessie ontketen twis wat, as dit nie by bekgevegte stop nie, ons met niks minder as ’n geknelde land gaan laat nie.

Tóg is dit ’n kwessie wat te lank uitgestel is, terwyl dit sinvol opgelos kan word. Maar nou laat dit ons almal met ’n babelas van 1994 se vryheidsfeesvieringe.

Dit blyk egter dat die meeste politieke partye besef politieke kwessies kan deur gesprekvoering opgelos word én daar moet na die land se grootste bate (sy mense) omgesien word.

Ernest Roets, Kallie Kriel en die vuvuzela Andile Mngxitama moet besef dit gaan nie hier oor ras nie, maar oor sosiale geregtigheid.

Julius Malema, pres. Cyril Ramaphosa en Mmusi Maimane moes lankal hul ducks in ’n row gekry het, eerder as om nou opportunisties te raak oor die kwessie van grondonteiening. Dit gaan nie oor 2019 se algemene verkiesing nie, maar om die waardigheid van die land se mense te herstel.

Ons is geleer kommandeur Jan van Riebeeck het Tafelbaai op 6 April 1652 “vreedsaam” met drie “oorlogskepe” ingevaar. Sekerlik kon die inheemse volk se klippe uit ’n slingervel nie veel uitrig teen die kanonne van De Reijger, Drommedaris of Haarlem nie.

En ja, hulle het eers ’n Hollandse tuck shop kom opsit en later toe word die Kaap die hoofkantoor van die franchise wat toe ’n kolonie van ’n vreemde volk geword het.

Weens kolonialisme is die inheemse volk gedwing om in hulle maatskappy te werk, want hulle is die grondbaronne.

So, dis nie waar dat die land se oorspronklike inwoners eers in 1913 met net ’n diervel as bedekking en ’n bottel Tassies haweloos gelaat is nie.

Dis ook nie waar dat die kwessie oor grondeienaarskap in 1994 uit die gedagte van Mzansi se inheemse volk verdwyn het nie.

Dis onverantwoordelik van wie ook al die grondkwessie wil ontspoor deur dit te koppel aan volksmoord op wittes.

Ons moet erken kolonialisme het ons mense se grond onteien. Die mense wat van 1652 af suffer weens grondonteiening, verlang om na hulle grond terug te keer. Dit is dieselfde mense wat so fluks die lande saai, oes en produkte verpak.

Dis ’n mite dat bruin en swart mense nie kan boer nie, al skryf koerante so af en toe ’n storie oor ’n “suksesvolle swart boer”.

Ons mense kan myneienaars wees en nie net zama-zamas nie.

Jare lank het hulle in die skagte afgesak en die rykdom uit die buik van moeder Afrika gehaal, maar buitelandse firmas ryk gewerk.

Hulle was eintlik steeds slawe wat net betaal is om elke greintjie edelmetaal uit te haal. Toe hulle “op gebruik” is, is hulle in myndorpies se ghetto’s gaan dump.

Terwyl die oorspronklike in­woners van dié land sonder grond sit om ’n huis te bou, mynbou te beoefen of te boer, sal daar nie volhoubare vrede wees nie.

Oor die SA grondkwessie maan die Keniaanse intellektueel Patrick Lumumba: “The time­ has come. We must do away with dealers and have leaders, do away with cheaters and have teachers instead.”

Die sinvolle oplossing van die grondkwessie bied ons daai geleentheid. Die oplossing is in ons hande.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters