10 maande gelede
Gewapende vrede se krake begin wys
 ~ 

PRES. Cyril Ramaphosa­ is duidelik in ’n knyptang-situasie. Hy word behoorlik gedruk vanuit eie geledere asook van buite.

Die vrede wat by Nasrec bereik is met sy verkiesing as president van die ANC en later ook die president van die land, was nie ware vrede nie.

Nee, dit was baie beslis ’n gewapende vrede.

Nou veg die King of Spades, soos hy sedert sy dae by die National Union of Mineworkers (NUM) genoem word, aan twee fronte.

En dis maar moeilik as jy nie weet wie maak jou rug toe en wie haal die dolke uit om jou by te kom nie.

Met ’n slang soos Ace Magashule aan sy boesem kan dit ook nie beter gaan nie.

Voeg daarby die gewonde leeu, Jacob Gedleyihlekisa Zuma, en jy weet dis hel en bensien vir Ramaphosa­.

Zuma is duidelik in ’n oor­lewingsposisie. Moenie vergeet hy was die intelligensiehoof van die ANC nie.

Soos die oumense sê: Intelligensie kry ’n mens nie in ’n boek nie. Jy word daarmee gebore.

Dis hierdie intelligensie wat Gedleyihlekisa­ nou inspan om die slagordes vir Ramaphosa op te stel.

Die vergaderings van Magashule, Supra Mahumapelo en Zuma gaan die ANC by die stembus knyp. Hierdie leierskapstryd gaan die ANC seermaak in 2019.

Cyril is egter ’n generaal. En ’n generaal klim nie van sy perd af vir enige brak wat blaf nie.

Al is dit ook die blaf van die EFF, wat ook maar nie te demo­kraties is met sy commander-in-chief wat duidelik nie enige interne opposisie in partyverband duld nie.

En daarom moet die opposisie-partye nie met die broek op die enkels gevang word nie.

Nou is die tyd om voelers na mekaar uit te steek en ’n effektiewe opposisie te bou op die struggle van Ramaphosa se twee fronte.

Dit verswak die hoogs intelligente Ramaphosa geweldig.

En soos ’n aasvoël wat wag op sy verswakte prooi, moet die DA as grootste opposisieparty nou toeslaan.

Toegegee die DA is ook maar erg aan die hakskeen gehap met die De Lille-sage en ander binne­gevegte. Sy aanwysing van premierskandidate is ook nie sonder omstredenheid nie.

Tog sal die DA weer ’n haas uit die hoed trek wat menige vyand en vriend sal verras. Dit is oor jare heen bewys.

Of die kiesers egter nog daarvoor sal val, moet nog gesien word.

Veral in die Wes-Kaap, bakermat van die DA, gaan dit lol.

Patricia de Lille is hopeloos te stil. Wat Antie Pat gaan doen, sal die gang van die politiek in die Wes-Kaap bepaal.

Bruin mense vergewe maklik en vergeet ewe maklik.

Maar die bruin stem sal die gang van die verkiesing in die Wes-Kaap definitief bepaal.

Dis ook insiggewend dat die bruin mense se kultuurbewustheid nou oorgespoel het in politieke bewustheid.

Dis ’n onomstootlike feit dat die meeste bruin mense voel die ANC verstoot hulle.

Wat die ANC daaraan gaan doen, en of dit nog enigsins uitvoerbaar is, is maar duister soos ’n Karoo-nag.

Dis tyd dat die opposisiepartye in oorlog-mode moet oorgaan.

Suid-Afrika is reg vir koalisies, al is dit broos. Die DA-EFF-koalisie het dié broosheid in Nelson Mandelabaai blootgestel.

Suid-Afrika is ook gereed vir ’n regering van nasionale eenheid.

Wie ook al sy kaarte reg speel, sal bepaal wie in watter koalisie of regering van nasionale eenheid opgeneem gaan word.

Hoe dit ook al sy – geniet die oorlog, die vrede gaan erger wees.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters