Verlede jaar
DA se ideologie bly ras-essensialisme
 ~ 

DIT sou gepas wees om die agteruitgang van ons klein dorpe as metafoor aan te wend om die ideologiese krisis te demonstreer waarin die DA hom bevind.

Die meeste klein dorpies het in die 19de eeu as klein militêre en administratiewe poste van koloniale besetting ontstaan. Dié dorpies het wortelgeskiet rondom landdroshowe en kantoorblokke.

Infrastruktuurbelegging was minimaal. Ekonomiese ontwikkeling het selde verby die bestaan van algemene handelaars gestrek.

Dié beleggings en ontwikkelings was hoofsaaklik tot die dorpies se sentrale wit sakegebied beperk – tot nadeel van nie-wit mense wat tot krotbuurte gereduseer is.

Die DA en sy voorgangers het op dieselfde vertrekpunt hul beslag gekry – die bevordering en verskansing van wit ideologie. In so ’n mate dat die wit leierskorps van dié party (wat in getalle ’n swart party is, maar ideologies witheid in stand hou) met ’n dilemma sit.

Hoe versoen die DA die belange van sy wit liberale met sy swart nasionaliste s’n? ’n Paradigmaskuif in ideologie is die oplossing.

Ideologieë verskaf ’n belangrike manifestasie van politieke waardes wat dikwels verantwoordelik is vir die wyse waarop baie – of dalk alle – politieke akteurs optree.

Die Fransman Antoine Destutt de Tracy het die term “ideologie” tussen 1796 en 1798 geformuleer. Dis ’n stel waardes wat ons as riglyne gebruik vir hoe ons lewe.

Die gevaar van ideologie lê opgesluit in ’n ou spreekwoord wat die Britse historikus AJP Taylor losweg geformuleer het as: “Jou ideologie is soos jou eie asem – jy kan dit nie self ruik nie.”

In ’n ander konteks om ’n oplossing aan die dilemma met ideologie te verskaf het die historikus Hermann Giliomee opgemerk: “Dit is veel beter om openlik te erken uit watter hoek jy kom wanneer jy jou storie vertel.”

Dit blyk dat Helen Zille, die voormalige DA-leier, wetend of onwetend in haar onlangse outobiografie, Not without a Fight, die ideologiese hoek, neoliberalisme, verklaar waaruit die DA kom.

Tragies vir die DA het neoliberalisme, wat in 1938 in Parys op ’n vergadering gemunt is, klaaglik misluk. Aanvanklik het die neoliberalisme hom ondanks uitspattige befondsing op die periferie bevind. In die 1970’s, wat gekenmerk is deur ekonomiese krisisse aan albei kante van die Atlantiese Oseaan, het hy hom egter toenemend binne die hoofstroom bevind.

Ronald Reagan en Margaret Thatcher se bewind het neoliberalisme nie net verskans nie, maar verder uitgebou deur onder meer privatisering en belastingkorting vir die rykes.

Toe, soos die DA dit vandag doen, is neoliberalisme bevorder en gepropageer onder die dekmantel van “there is no alternative”.

En dít is verantwoordelik vir 2008 se ekonomiese krisis, die opkoms van rykdom en mag soos vervat in die Panama-dokumente, die verval van openbare onderwys en gesondheid, die opkoms van Donald Trump, rassisme en etniese chauvinisme, asook die mislukking van linksgesindes.

Die neoliberalisme staan staatsinmenging teen en sorg dat die markte seker maak elkeen verdien wat hom of haar toekom. Vakbonde word geringgeskat en kompetisie bepaal menseverhoudings. Armes wat nie kompeterend is nie, word gemarginaliseer.

Ondanks dié mislukkings van die neoliberalisme glo die DA onwrikbaar daarin en beskou enige aanval hierop as ’n aanval op witheid.

Die oudjoernalis dr. Christi van der Westhuizen skryf: “Sy (Zille) dink ’n kritiese ontleding van witheid beteken daar is nie plek vir wit mense in die land nie.”

Die DA se (mislukte) neoliberalisme is ras-essensialisme wat losweg as kleindorpse gedagte omskryf kan word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters