Verlede jaar
Cyril sal nogal goed wees vir Suid-Afrika
 ~ 

MET Donald Trump en sy omstredenheid in die Wit Huis het die politieke hoogdrama se fokus na die opvolgstryd in die ANC verskuif, veral in die aanloop tot dié organisasie se vyfjaarlikse nasionale konferensie in Desember.

Eerstens wil ek graag vir die nie-lesende politieke joernaliste en subredakteurs ’n politieke lering gee. Hoekom sou sommige politieke joernaliste na dié konferensie as net ’n verkiesingskonferensie verwys?

Dit terwyl die ANC se grondwet duidelik stipuleer dat dit ’n nasionale konferensie is waar sy nasionale uitvoerende komitee plus die nasionale ampsdraers verkies word. Belangriker egter is dat dit die resolusies is wat deur die ANC se beleidskonferensie (wat in Junie vergader) geformuleer word en deur die nasionale konferensie bespreek en dus aanvaar (of verwerp) word wat uiteraard in regerings­beleid omskep en geïmplementeer moet word.

Ook skokkend het ’n prominente Engelse dagblad met verwysing na Trump se verkiesing soos volg op sy voorblad berig: “Controversial 5 years ahead”. Die ampstermyn van ’n Amerikaanse president is vier jaar en nie vyf nie.

Hoe het dié (politieke) joernalis se blaps verby die subredakteurs geglip? Die kwynende kwaliteit van die joernalistiek is die nagevolg omdat baie nuuskantore met onervare en nie-lesende joernaliste en subredakteurs sit wat min of niks van politieke wetenskap, geskiedenis, ekonomie, letterkunde, filosofie en ander sosiale wetenskappe weet nie.

Baie van hulle lees nie eens die koerante of tydskrifte waarvoor hulle werk nie.

Net gou ? woord oor oudpres. Barack Obama se nalatenskap. Om ’n genuanseerde blik op Obama se politieke erflating te werp, moet jy die gekompliseerde Amerikaanse politieke stelsel verstaan.

Die eeu oue Britse Westminsterstelsel (parlementêre stelsel) wat ons geërf het, is minder ingewikkeld omdat die meerderheidsparty in die parlement die regering vorm.

In Amerika is dit nie noodwendig die geval nie omdat die president en die meerderheidsparty in die Amerikaanse Kongres (wat uit die Huis van Verteenwoordigers en die Senaat bestaan) nie noodwendig van dieselfde politieke party is nie.

In Obama se geval het die Republikeine ongelukkig die grootste gedeelte van sy agtjaar-ampstermyn die kongres beheer.

Dit het sy presidentskap uiters bemoeilik, want Obama-wetgewing is telkemale deur die Republikeine geveto.

Hy het egter die Amerikaanse ekonomiese insinking van 2008 reggeruk en sodoende ook die ekonomie verder globaal van ineenstorting gered.

Sy “Obamacare” het nagenoeg 20 miljoen armes vir die eerste keer toegang tot bekostigbare mediese versekering besorg.

Met sy buitelandse beleid het hy egter tragies misluk. Hy’t veral weifelend opgetree teenoor lande soos Sirië.

Die Obamas het egter die Wit Huis sonder ? enkele skandaal verlaat en het deurgaans met verfyndheid en integriteit opgetree.

Omdat Cyril Ramaphosa min of meer oor dieselfde kwaliteite as Obama beskik, sal dit goed vir beide die ANC én die land wees as hy in Desember tot ANC-leier en in 2019 as president verkies word.

Die ANC speel met sy eie toekoms en ook met dié van die land om ? oninspirerende en traagsprekende Nkosa­zana Dlamini-Zuma, wat tans as voorsitter van die Afrika-unie ’n totale mislukking is, te verkies om by pres. Jacob Zuma oor te neem.

  • Jason Lloyd is ’n voormalige joernalis, skrywer en sosiale kommentator.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters