6 maande gelede
Bruines mag op al hul regte aandring
 ~ 

NIEMAND minder nie as wyle prof. Jakes Gerwel het by geleentheid na Jason Lloyd as ’n belangrike jonger Afrikaansskrywende stem verwys.

Dis geen geringe erkenning nie: Gerwel self het komplimente versigtig uitgedeel.

Omdat Lloyd vyf jaar ná Gerwel se afsterwe steeds kommentator en meningsvormer in Son op Sondag en op ander openbare platforms is, moet sy standpunte kop toe gevat word. Die skootrekenaar is immers mágtig, nes die pen van ouds.

Dit is wat my genoop het om hierdie reaksie op sy rubriek van voorverlede Sondag, “Bruin nasionalisme raak Verwoerdiaans”, te waag. Lloyd rugsteun sy aanname aan die hand van vyf waarnemings:

  • organiseringsaksies rondom regstellende aksie en Khoisan-identiteit van “ontevrede, uitgeskopte” ANC-lede;
  • ongelukkigheid in (bruin) DA-geledere met die behandeling van Patricia de Lille en Lennit Max;
  • uitsprake deur bruin Afrikaanssprekendes oor hul taal se “toenemend verswakte posisie”;
  • bruines wat die benamings “bruin” en “Kleurling” wil afskud en in die naam van “die gestorwe Khoi” ’n nuwe politieke rol wil beding; en
  • ander wat, soos Lloyd dit noem, deur “fanatiese politieke korrektheid” vir “posisies en guns­te” bakhand staan.

Die slotsom waartoe hy dan kom, is dat bg. verskynsels aanduidend is daarvan dat “sekere bruines hulself verklaar het tot ’n spesiale ras-kategorie”, soos in die verlede, en daarom “selfs in die huidige grondwetlike bedeling” op spesiale behandeling aanspraak maak.

En dan dié emmer gryswater in die gesig: “Dié onintellektuele beredenering hoort eintlik in die asblikke van die geskiedenis.”

Lloyd se aanname dat die aksies soos bo aangedui, ’n versugting na “Verwoerdiaanse” bruin nasionalisme is, moet gelees word teen die agtergrond van iemand wat gereeld al in dié ruimte geskryf het dat daar nie iets soos “bruin mense” bestaan nie.

Ander kere, weer, het hy ’n saak daarvoor probeer uitmaak dat bruin mense hulself “swart” moet ag en dan sal die ná-apartheid-son ook vir húlle skyn. Dié is dalk nie “onintellektuele beredenering” – om sy eie (skeld)woorde te gebruik – van iemand wat deur Gerwel geag is nie, maar Lloyd se standpunt kan tog oningelig voorkom as ’n mens die “huidige grondwetlike bedeling” aan hom voorhou.

Allereers erken dié bedeling die diversiteit van Suid-Afrika se bevolking. Terselfdertyd gee dié bedeling elke Suid-Afrikaner die reg om op hul grondwetlik verskanste régte aan te dring, soos die “ontevrede, uitgeskopte” ANC-lede wat op die regverdige toepassing van regstellende aksie en die omhelsing van hul Khoi-afkoms aanspraak maak.

Ook vir diegene wat stry teen rassediskriminasie in die DA of die afskaling van hul Afrikaanse moedertaal, vir húlle maak die Grondwet en Handves van Menseregte voorsiening; ewe so vir hulle wat “in die naam van die gestorwe Khoi ’n nuwe politieke rol wil beding”.

Dis dalk in dié laaste losse verwysing na “die gestorwe Khoi” dat Lloyd hom ontbloot as ontkenner van wat tot “Verwoerdiaanse bruin nasionalisme” kon lei: dit was 350 jaar se kolonialisme, apartheid, mishandeling en afjak, asook – bepaald – die gewelddadige (hoewel kamstig “wetlike”) ontneming van grond, kultuur, menswaardigheid én lewens van die “gestorwe Khoi” en hul nasate.

Om te oorleef, om in te haal, om iewers in hul loopbane te kom, is dit straks daarom vir sommige nodig om deur “fanatiese politieke korrektheid” welwillendheid (Lloyd noem dit “posisies en guns­te”) van wit én swart te bekom; of om, soos hy, jare lank in staatsposte te kan aanbly.

  • Heindrich Wyngaard is ’n aktualiteitsaanbieder en skrywer.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters