9 maande gelede
Bruin nasionalisme raak Verwoerdiaans
 ~ 

DAAR is ’n opmerklike kategorie Verwoer­diaanse bruin nasionalisme aan die opkom wat kwessies wil aanroer wat dié gemeenskap raak.

Dié nasionalistiese verskynsels manifesteer in talle elemente. In die Wes-Kaap is daar ’n ontevrede, uitgeskopte ANC-groep. Hulle organiseer kongresse wat kwessies soos regstellende aksie, Khoi- en San- tradisionele sake bespreek.

Met Patricia de Lille, wat by die DA in onguns verval het, en Lennit Max, wat weer nie tot Wes-Kaapse DA-leier verkies is nie, is dié verskynsel ook in die DA te vinde.

Daar is ’n groepie bruines wat ook soos Afrikaners ontevrede is oor, soos hulle dit stel, Afrikaans se toenemend verswakte posisie.

Die verskynsel van Afrikaanssprekendheid en die toekoms daarvan bly ’n gedurige besprekingspunt sonder ophou.

Dan is daar bruines wat dié gewraakte koloniale en apartheidsbenaming – bruin/kleurling – wil afskud. Hulle organiseer in die naam van die gestorwe Khoi en wil ’n nuwe politieke rol beding.

Baie is opreg en wil die Khoi-taal en -kultuur laat herleef. Ander begewe hulle op ’n pad van fanatiese politieke korrektheid om sekere posisies en gunste te wil bekom.

Die oplewing in bruin nasionalistiese denke herinner aan ’n toespraak wat dr. Hendrik Verwoerd in 1961 voor die destydse Raad vir Kleurlingsake gelewer het.

Verwoerd het in sy toespraak die vrees uitgespreek dat bruines onder ’n “Bantoe-diktatuur as die minste of die mins nodige” geag sou word. Hy’t ook ’n droom van bruines as “nasie-in-wording” gehad, maar het ook toe sterk gevoel dat die bruines nie oor ’n ontwikkelde volksidentiteit beskik nie.

Verwoerd se toespraak en denke was ’n direkte uitvloeisel van die Afrikaner se (destydse en huidige) besef dat die kunsmatige bestaan van kleurlinge/bruines ook in Afrikaners se (politieke) belang is.

Die manier waarop die Afrikaner bruines gepamperlang het (dink aan Breyten Breytenbach se verwysing na bruines as “ons lyfeie skaduwees” en NP van Wyk Louw se romantiek van “die bruines is ons mense, hoort by ons”) was nog altyd tekenend van hoe hulle bruines voor en ná 1994 polities as stemvee sou misbruik om wit bevoorregting in stand te hou.

Dit sou egter oneerlik wees om die naklanke en erfenis van ons ras-gebaseerde geskiedenis te ontken in ont­ledings en besinnende gesprekke oor die problematiese koloniale en apartheidskonstruk, nl. bruines/kleurlinge.

Bruines se politieke posisie was nog altyd ’n kwessie van ongemak. Hoofsaaklik oor hul gebrek aan ’n eie taal en kultuur om as etniese groep te kan konstrueer. Juis daarom sal hul gevoel van uitgeslotenheid nie gou verander nie.

Die steeds geordende etniese en kulturele leefruimtes waarin ons ons bevind, is ’n bydraende faktor.

Dat bruines ook soms meewerk aan hul periferale gevoel, is gewis. Toe pres. Cyril Ramaphosa onlangs as versoeningsgebaar die name van sogenaamde bruin struggle-ikone soos Jakes Gerwel, Reggie September, Johnny Issel en Ashley Kriel noem, het menige bruine op sosiale media skepties gereageer en dit afgemaak as ’n verkiesingsfoefie.

Nie net het hulle Ramaphosa se versoeningshand weggeklap nie, maar weer beklemtoon dat sekere bruines hulself verklaar het tot ’n spesiale ras-kategorie wat selfs in ons huidige grondwetlike bedeling, – soos onder 1983 se Grondwet – spesiale behandeling verdien.

Dié onintellektuele beredenering hoort eintlik in die asblikke van die geskiedenis.

Nierassigheid en nie nasionalisme nie – gebaseer op die outentieke begrip van die filosoof Friedrich Nietzsche, wat hy die “chaos” van die mens se verbeelding noem, die mag om aan te hou om ruimte in jou denke te skep – behoort vooropgestel te word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters