5 maande gelede
Benaming maak dié skole tweedeklas
 ~ 

ZUMA het verdwyn. Want hy moes.

Die name van strate en plekke wat na aanleiding van verkrampte apartheidsfigure geskep is, is ook vervang.

Diegene wat soos stout kinders daaroor geprotesteer het, moes net aanvaar dis ’n korrekte stap in die regte rigting vir almal wat eers as tweedeklasburgers geëtiketteer is.

Standbeelde van die skeppers van apartheid is verwyder. Som­mige met mening. Ander het die stropingsproses oorleef deur verskuif te word na ’n neutrale area waar duiwe die voorreg het om hulle te beskadig.

Sekere oorblyfsels van apartheid is nog met ons. Een daarvan klou so vas dat dit deur talle aanvaar is as die waarheid, want dit word weinig of nooit bevraagteken nie.

As ’n mens te gewoond geraak het aan jou gemaksone, word jou oë blind vir onreg!

Die etikettering en stereotipering van nie-wit hoërskole as ­ Sekondêr is ’n oorblyfsel van apartheid wat moet verdwyn!

Die Etimologiewoordeboek van Afrikaans beskryf “sekondêr” as “ondergeskik”, “van minder belang of betekenis”, “in die tweede plek”. Die Oxford Dictionary beskryf “secondary” as “next after first”, “lesser”, “inferior” en “second rate”.

Hoekom moet sommige skole steeds gebuk gaan onder statutêre gekose woorde deur die apartheidsregering wat hulle as tweedeklasburgers geëtiketteer en statutêr geklassifiseer het as kleurlinge?

Hoekom moet dié skole, wat nou meestal grys is, beskou word as hoërskole as die onderwysdepartement se kurrikulum vir alle hoërskole dieselfde is en álmal die KABV (Kurrikulum en Assesseringsbeleidsverklaring) gebruik?

Die departement van basiese onderwys moet ernstig hierna kyk, want nie-wit skole word sodoende teruggehou. Opvoeders van dié skole (en selfs leerders) word deur grys hoërskole beskou as “ondergeskik” en “tweede beste”. Dít strem die prestasie van nie-wit leerders en het ’n impak op matriekuitslae.

Sogenaamde hoërskoolleerders sien ook neer op sekondêre skole omdat hulle onder die indruk verkeer hulle is die beste en móét dus elke keer die beste lewer.

’n Hoërskoolleerder het ’n vriend se dogter blatant beledig toe sy hard lag. Die wit leerder het haar mooitjies herinner dat dit nie ’n sekondêre skool is waar so hard gelag moet word nie.

Waar sulke aanmerkings gemaak word, lê nog baie verskuil in die koppe van leerders wat kwansuis in hoërskole is.

Dít moet reggestel word deur na alle hoër skole te verwys as “hoërskole”. Dis tog wat dit is! Sommige “sekondêre” skole het hul hoërskoolstatus teruggeneem. Wat verhoed die res?

Die verdeling tussen “sekondêr” en “hoër” beïnvloed beslis die leerders se aansoeke vir beurse, borge en toekomstige betrekkings op hul CV’s sonder dat jy dit sal agterkom.

Want werkgewers sal teen hul eie beterwete meer vertroue hê in aansoekers van ’n “hoërskool”.

Die subtiele, dog blatante rasseskeiding moet ophou! Prinsipale kan gerus hul stilswye verbreek en opstaan vir wat reg is.

Daar sal ’n houdingverandering wees as dié geringe maar drastiese aanpassing intree. Eenwording sal werklik kristalliseer. Dit baat nie ons stem as gelyke burgers terwyl ons leerders nog subtiel as minderwaardig geëtiketteer word nie.

Ten slotte, sal woorde soos “sterk sentrums” (’n verwysing na wit hoërskole) by nasiensentrums ook verdwyn! As na dié skole as sterk sentrums verwys word, watter skole is dan die swak sentrums? Merkers se vooroordeel wat kan ontstaan, behoort dan te verdwyn!

Die samesmelting in benaming sal die matriekuitslae ’n hupstoot gee, want dan is hoërskole op dié gebied mos op gelyke vlak!

Die Zuptas is weg. Ek hoop die suiweringsproses geskied ook by die departement van basiese onderwys. Gou!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters