Verlede jaar
2017 kan jaar wees waarin dinge gebeur
 ~ 

BAIE Suid-Afrikaners se status is deur san­gomas as “2017-positief” gediagnoseer.

En daarom sal ons op ’n tabula rasa begin. ’n Skoon bladsy.

Vir ons geliefde land in ’n boek wat ons nuut oortrek en op die omslag skryf “2017-positief”.

Weliswaar dieselfde boek waarin ons die afgelope meer as 21 jaar skryf, maar in die gees van positivisme sal ons 2017 aandurf.

2017 sal die jaar wees waarin daar weer ernstig gewerk gaan word aan die Nasionale Ontwikkelingsplan.

Die bloudruk wat die lewe van alle Suid-Afrikaners positief kan verander.

Aan die ekonomiese front sal ons nie net kop bo water hou wat rommelstatus betref nie, maar Standard & Poors sal ons ’n opwaartse, positiewe gradering gee. Daarvoor sal die boontjietellers in die tesourie sorg, of hoe, minister Pravin?

En ekonomiese groei sal daar wees, al is dit met ’n halwe persentasiepunt.

Werkskepping gaan prioriteit geniet in die beplanning van welvaart. Werksoekers en werkgewers/werkskeppers sal die gees van positivisme verder versterk. Suid-Afrika het die potensiaal om die lewensomstandighede van al sy inwoners te verander.

Laat ons asseblief ons houding verander. Soos daar in Engels gesê word: “Your attitude determines your altitude.”

Daar is hoop vir die land se onderwys. Met ’n toegewyde onderwyserskorps gaan ons die kwaliteit van ons onderwysstelsel drasties omkeer.

Daar sal van dag een af gehalte- onderrig geskied.

Voeg daarby die ouers wat nougeset betrokke is by die onderwys en opvoeding van diegene naaste aan hul hart en huis, en 2017 sal die jaar wees wat bekend sal staan as die waterskeidingsjaar wat onderwys betref in hierdie land wat ons so liefhet.

Terselfdertyd sal studente op tersiêre vlak besef dat nie alles moet val nie en dat die regering die nodige geld sal bekom om ook op hierdie vlak toegang vir alle studente moontlik te maak.

Uitstekende gesondheidsorg is die ruggraat van enige welvarende land, want jou inwoners moet blakend gesond wees.

Daarom sal 2017 die jaar wees waarin aansienlik vordering gemaak sal word in die toepassing van die uitstekende Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) van dr. Aäron Motsoaledi.

Dat die NGV net so suksesvol sal wees soos Obamacare. Want dis heeltemal onaanvaarbaar dat daar gediskrimineer word teen siekes op grond van hul finansiële situasie.

Aan die politieke front sal alle politieke partye hul beste voetjies begin voor sit in die hofmakery van die kieserskorps.

Die regerende party sal ’n leier kies wat deur die gemiddelde Suid-Afrikaner aanvaar sal word wat ook aansien by wêreldleiers sal geniet.

Terselfdertyd sal opposisiepartye strategies te werk gaan om nie net die regerende party verantwoordbaar te hou nie, maar ook om reeds in 2019 deel van ’n nuwe regering van opposisiepartye te word.

Harde werk lê voor, maar dit is moontlik as daar terselfdertyd weggedoen sal word met siniese koalisies wat selfs die opportuniste ’n glimlag op die gesig plak.

Rassisme sal aangepak word met ’n nuwe ywer waar rassiste self op hul swaarde sal val: ’n Nie-rassige Suid-Afrika waar ’n “kaffe-waatlemoen” net so aanvaarbaar sal wees as “boerekos” en “hotnotsvis”!

Die korruptes van die korrupsieboot sal die boot self laat sink en hulle in hul honderde laat verdrink.

Terloops, het ek vergeet om die naam Jacob Gedleyihlekisa Zuma te noem?

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters