2 maande gelede
Die son sak nou oor Son op Sondag
khoi,son
KHOI-LEIERS: Van links na regs is chief Marcello Floris, chief Kora Hennings, chief Jan Bekkies en chief Christian Martin.  ~ Theo Jeptha

ALLE goeie dinge kom tot ’n einde.

En ongelukkig is dit vandag die geval vir Son op Sondag.

Ja, so hartseer soos wat dit is, is dit vandag die koerant se swanesang-uitgawe.

Ná vandag sal daar nie weer ’n Son op Sondag op straat wees nie.

Hartseernuus is dit voorwaar. Veral as ’n mens in ag neem die impak wat ons Sondag-uitgawe oor die jare gehad het.

Steeds relatief jonk in die Sondagkoerantmark, het Son op Sondag oor die jare kop en skouers bo die ander uitgestaan.

Hoe dan ook anders! Son op Sondag het oor die jare oor en oor ervaar hoe lojaal sy lesers kan wees.

En hoewel dit voel asof ons hierdie einste lojale lesers nou in die steek moet laat, is die verwoesting wat Covid-19 in die mediabedryf gesaai het ongelukkig buite ons beheer.

Maar dit keer ons nie om nogtans te spog oor wat hierdie koerant oor die jare vermag het nie.

Sedert 2009, toe die koerant die lig gesien het, was daar die een ná die ander storie wat lesers geboei het.

Toe ons in 2009 berig het oor die voormalige Idols-wenner Karen Kortjé se troue met Shaundore Aspeling, het lesers al geweet hie’ kom ’n lekke’ ding.

Destyds het ons met kleur en geur oor hierdie en soveel ander troues deur die jare berig­.­

In 2009 het een van ons immergroen journos, Linza de Jager, ook berig oor die dowe beauty Donna Boyd van Grassy Park wat destyds besig was met haar meestersgraad in geologie aan die Universiteit van Kaapstad.

Nie net het die fraaie Donna ’n liefde vir kuns gehad en ’n bruin belt in karate nie, sy het ook ’n rits skoonheidstitels agter haar naam.

In Mei 2010 het ons berig oor die omstrede Mario Wanza, wat destyds die ondervoorsitter van die Proudly Manenberg-veldtog was.

Gerugte van wanbesteding en buite-egtelike verhoudings is destyds rondgeslinger – bewerings wat Wanza ten sterkste ontken het.

Beleggers

In Julie 2010 het ons ’n storie gedra oor Wes-Kaapse beleggers was ’n allemintige R2,7 miljoen in die Soweto Focus Point-toerisme skema verloor het.

Daar is toe bespiegel dat sowat 250 beleggers landwyd omtrent R25 miljoen in die projek belê het – ’n aardige bedraggie tien jaar gelede. Die beleggers het knap voor die 2010 Wêreldbeker-sokker­skouspel elk R90 000 opgedok om ’n skool in ’n spoghotel te omskep.

Dan was daar die hartseerstorie van die oulike onnie van Uitenhage, Jayde Panayiotou (28), wat in April 2015 ontvoer en wreed vermoor is.

Son op Sondag het full-out gegaan om te berig oor die verhoor van Jade se man, Christopher Panayio­tou, wat die meesterbrein agter haar ontvoering en moord was.

Christopher is eventually skuldig bevind en in November 2017 tot life gevonnis.

As ons moet skryf oor ál die stories wat Son op Sondag die bielie van ’n koerant maak wat hy was, sal ons moet aanhou skryf tot selfs Kersvader moan.

Ons was daar met Madiba se begrafnis in 2013, nes ons verlede jaar daar was met die begrafnis van die gewilde voormalige Springbok-vleuel Chester Williams.

Oor die jare was ons mission altyd dieselfde: Om oral te wees by nuusgebeure wat saak maak vir jou, ons goue leser.

Ons is trots daarop dat ons lesers regtig kon bederf met hul gunsteling Antie Mona- en Oom Sonnie-rubriek, Albert Bakkes se Sonwiele, wat baie aanklank gevind het, en ja, wie onthou nog die stomende en gorgeous meisies wat ons oor die jare ook in die koerant gefeature het? Die ruite het gereeld opgewasem wanneer daai blad oopgemaak is.

Natuurlik sou hierdie memories nie moontlik gewees het sonder die onwrikbare lojaliteit van ál ons lesers nie.

Vir ’n ieder en elk van julle sê ons baie dankie.

Dankie dat julle op ’n Sondag nie net van kerk onthou het nie, maar ook van Son op Sondag ...

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters