9 maande gelede
Swart CEO nou WPRVU se doel
Zelt Marais.  ~ GALLO IMAGES

DIE Westelike Provinsie Rugbyvoetbalunie (WPRVU) is gereed om vir die eerste keer in sy geskiedenis die leisels aan ’n swart uitvoerende hoof te gee.

Dít is die versekering wat Zelt Marais, die president van die WPRVU, Son op Sondag vandeesweek gegee het.

Paul Zacks, die vorige uitvoerende hoof, was vier jaar in die pos voordat hy op 31 Januarie daarvan afgestaan het.

Hy het destyds in ’n verklaring gesê: “Die afgelope vier jaar was ’n uiters uitdagende periode vir WP Rugby – op en van die veld.

“Dit is tyd dat iemand anders inkom en die leisels met hernieude energie en wilskrag opneem.”

WP Rugby het egter niemand in Zacks se plek aangestel nie.

’n Uitvoerende komitee het sedertdien beheer geneem van WP Rugby se sake.

Voor Zacks se aanstelling was Rob Wagner die man in die saal as uitvoerende hoof van WP Rugby. Wagner het WP Rugby 25 jaar gedien.

Volgens Marais kon hulle weens die Covid-19-pandemie nog nie met die proses begin om ’n gepaste persoon in die pos aan te stel nie.

Hy het egter aan Son op Sondag bevestig dat die aanstelling gemaak sal word met die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se transformasievereistes in gedagte.

“WP Rugby is ’n organisasie wat staan vir gelyke geleenthede vir werknemers,” het Marais gesê.

“Transformasie is ’n besigheidsnoodsaaklikheid. In ooreenstemming met die regering en Saru se transformasievereistes, sal ons ons bes doen om ’n uitvoerende hoof te werf wat van ’n histories benadeelde agtergrond kom.

“WP Rugby onderskryf die hoogste etiese standaarde deurdat alle werknemers, insluitend spelers, afrigters en spanbestuur, die grootste respek vir mekaar sal hê.

“Ons staan saam met die spelers, afrigters, spanbestuur, werk­nemers, amptenare en wie ook al uitgekom en gepraat het van die #BlackLivesMatter-beweging,” het Marais bygevoeg.

Die laaste swart persoon wat as ’n uitvoerende hoof in SA Rugby gedien het, was Anele Pamba van die Oostelike Provinsie Rugbyunie. Pamba het in 2013 uit sy pos bedank.

Die Sharks het laas jaar vir Eduard Coetzee op 39-jarige ouderdom as sy uitvoerende hoof aangestel. Die Bulls het in Junie vanjaar die 33-jarige Edgar Rathbone aangestel.

Die WP moet ook nie skroom om ’n dinamiese jong CEO die job te gee nie.

Hy hoef ook nie verder as sy eie geledere te kyk vir ’n goed gekwalifiseerde en gepaste kandidaat nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters