9 maande gelede
SARU erken hy faal swart afrigters
Mark Alexander.  ~ GALLO IMAGES

DIE Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) erken hy het gefaal om geleenthede vir swart rugbyafrigters te skep.

Mark Alexander, die president van Saru, het vandeesweek aan Son op Sondag gesê hoewel vier senior nasionale spanne al swart afrigters gehad het, stem dié rugbyliggaam saam die aanstelling en bevordering van swart afrigters is oor die algemeen onvoldoende.

Alexander sê: “Ons het die laaste tyd verskeie kere in die openbaar ons kommer daaroor uitgespreek.

“Die vraag is: Wat doen ons daaraan?

“Ons glo dat ons strategiese transformasieplan met spelers in 2019 bemoedigend was.

“Die hoogtepunt was die Springbokke se seëvierende groep by die Rugby World Cup.

Hernu

“Ons erken dat ons dieselfde teikens vir afrigters het, maar het minder sukses daarmee behaal.”

Volgens Alexander het hulle dus besluit om die proses vir hul strategiese ontwikkelingsplan vir 2030 te hernu.

“Ons lede en nasionale struk­ture is verplig om die aanstelling van swart afrigters te versnel met ’n mikpunt wat op die minimum van 60% swart afrigters oor die algemeen wil eindig.

“Om die proses te bespoedig, het ons Rugby-afdeling ’n fast track-program vir swart afrigters ontwikkel voordat Covid toegeslaan het.

“Ons kan nie nou toelaat dat die voorstel stof vergaar nie.

“Ál ons lede het die 2030-plan aanvaar. Dit hang nou van ons af om dit te maak werk.”

Nieu-Seelandse Rugby het intussen Vrydag sy planne uiteengesit om ’n nuwe kompetisie vanaf 2021 aan te bied.

Dit sluit net Nieu-Seeland se vyf Superrugby-spanne in en bevat geen Suid-Afrikaanse spanne nie.

In reaksie op dié aankondiging van Nieu-Seeland het Jurie Roux, uitvoerende hoof van Saru, in ’n verklaring gesê die Covid-19-pandemie het ’n enorme impak op die sport gehad.

“Fundamentele vrae is gestel oor die lewensvatbaarheid van kompetisies en skedules vir wedstryde,” het Roux gesê.

“SA Rugby is op hoogte gehou van die denke in Nieu-Seeland en die uitkomste van die Aratipu-verslag, wat die uitdagings aanpak van reisbeperkings, wat tot in 2021 kan strek.

Beskikbaar

“As deel van Sanzaar sal ons ondersoek instel na die voorgestelde nuwe kompetisie en hoe dit by die bestaande gekontrakteerde kompetisies pas.”

Roux gaan volgende week ’n media-inligtingsessie aanbied waar verdere besonderhede beskikbaar gemaak gaan word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters