Verlede jaar
SA Rugby ver agter ander
ANDY MARINOSFoto: GALLO IMAGES  ~ 

DIE All Blacks en die Wallabies gaan ’n onregverdige voordeel hê wanneer hulle die Springbokke en die Poemas later vanjaar in die Rugby Championship aandurf.

Andy Marinos, uitvoerende hoof van Sanzaar, die beheerliggaam vir rugby in die Suidelike Halfrond, het gister in ’n aanlyn-konferensie teenoor Son op Sondag erken Suid-Afrika en Argentinië is baie ver agter Nieu-Seeland en Australië.

Dít kom aangesien hulle tot dusver weens die pandemie nog geen rugby gespeel het nie.

Die Kiwi’s se Super­rugby Aotea­roa-kompetisie is reeds ses weke aan die gang, terwyl die Aussies reeds vir ’n maand in aksie is.

Marinos het bevestig Sanzaar beoog om die Rugby Champion­ship steeds vanjaar van die einde van Augustus of van vroeg in September aan te bied.

As dit plaasvind, sal dit in alle waarskynlikheid in Nieu-Seeland wees.

Marinos sê: “Nieu-Seeland is waarskynlik die veiligste plek op die planeet op die oomblik.

“Die probleem is egter dat die speelveld nie gelyk gaan wees vir die vier lande nie.

“Suid-Afrika en Argentinië het nog geen rugby gespeel nie.

“Die Kiwi’s en die Aussies gaan dus ’n onregverdige voordeel hê omdat hulle reeds baie rugby agter die blad het.

“Die Bokke en Poemas sal waarskynlik net vyf tot ses weke hê om voor te berei, terwyl hul eweknieë van Australasië reeds 10 of 12 weke van rugby agter die blad sal hê.”

Marinos het egter geen twyfel dat Rassie Erasmus, die Suid-Afrikaanse direkteur van rugby, planne sal beraam sodat die Bokke op hul heel beste sal wees as hulle aan die Rugby Cham­pionship gaan deelneem nie.

“Dit gaan beslis ’n moeilike skedule vir die Bokke wees om vir ses tot agt weke weg van die huis te wees, maar ek is vol vertroue dat die Bokke alles in die stryd sal werp om hul kroon as Wêreldkampioen suksesvol te verdedig.

“Hopelik kan hulle so gou moontlik in ’n plaaslike kompe­tisie weer op die speelveld kom.”

Volgens Marinos (47), voormalige Stormer-senter wat in agt toetse vir Wallis uitgedraf het, is Sanzaar tans hard besig om aan verskillende scenario’s rondom die wêreldwye reisbeperkings te beplan.

“Ons werk tans saam om ’n oplossing vir reis- en grensbeperkings te kry.

“Dis ’n baie unieke uitdaging, want ons moet ons finansiële verpligtinge met die uitsaaiers ook nakom,” het hy by­gevoeg.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters