9 maande gelede
Reds troef die Force
UITBLINKER: James O’Connor se skopstewel was vir seker goud werd vir die Reds.  ~ Gallo Images

NADAT die gehalte van spel in die eerste twee weke van Superrugby-AU teleurgestel het, het Vrydag se game tussen die Reds en die Western Force vir groot opwinding gesorg.

Die Reds het die Force in die Suncorp-stadion in Bris­bane met 31-24 ore aangesit nadat die tuisspan in die rustyd met 21-19 voor was.

Dit was die Reds se eerste sege oor die Force sedert 2015.

Beide spanne het vier drieë gedruk. Aan die einde van die dag was dit die skopstewel van James O’Connor, losskakel van die Reds, wat die verskil tussen die twee spanne gemaak het.

Hy was in die kol met vier doelskoppe en een skepskop.

“Dit was ’n baie goeie game met ’n fees van drieë,” het ’n tevrede Liam Wright, kaptein van die Reds, agterna gesê.

Onderskepdrie

“Die Force het goed vertoon en ons tot die einde laat klippe kou. Hy’t in die eerste 20 minute goed gespeel en ’n voorsprong van 14 punte opgebou.

“Die onderskepdrie wat hy voor halftyd gedruk het, het dit vir ons op die telbord moeilik gemaak.

“Die laaste 10 minute het hy kliphard geveg. Ons het goed gedoen om hom uit te hou.”

Wright se eweknie by die Force, Ian Prior, sê dit was ’n bietjie frustrerend omdat hulle goed gespeel het, maar steeds tekort geskiet het.

“Ek is egter steeds trots op die span se effort. Dit was ’n great rugby-skouspel. Albei spanne het alles gegee.

“Ons het verbeter op laas week. Dit is net teleurstellend dat ons nie die regte uitslag kon kry nie,” sê Prior.

Puntemakers:

REDS – drieë: Brandon Paenga-Amosa, Jock Campbell, Filipo Daugunu (2); doelskoppe: James O’Connor (4), skepskop: O’Connor.

FORCE – drieë: Jack McGregor, Byron Ralston (2), Andrew Ready; doelskoppe: Ian Prior (2).

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters