Verlede jaar
Perde Rainbow Bridge en Vardy sal die swaarste dra
op dreef: Rainbow Bridge is die naasgunsteling om die Durban July te wen. Foto: GOLD CIRCLE  ~ 

DIE Kaapse perde Rainbow Bridge en Vardy sal met 60 kg op die rug die swaarste dra wanneer die Durban July op 25 Julie op die Greyville-renbaan beslis word.

Do It Again, wat na ’n geskiedkundige derde agtereenvolgende oorwinning mik, sal 59,5 kg dra en Soqrat 59 kg.

Twist Of Fate (56,5 kg), Bunker Hunt en Tierra Del Fuego (elk 55 kg) is volgende op die lys van gewigte.

Volgens Hollywoodbets is die Justin Snaith-perd Belgarion die huidige gunsteling met 7-2.

Dié vier jaar oue seun van Dynasty het ses van sy agt wedrenne gewen.

Belgarion word in die betting gevolg deur Rainbow Bridge (9-2), Do It Again en Vardy (albei 7-1), Bunker Hunt (8-1) en Twist Of Fate, Golden Ducat en Soqrat (almal 20-1).

Soqrat is nou die breier Mike de Kock se enigste perd in die wedren.

Een van Snaith se ander perde, Silvano’s Pride, het groot steun gekry deurdat sy betting van 75-1 na 25-1 verbeter het.

Kaapse afrigters het die wedren die afgelope ses jaar oorheers met Snaith (3), Candice Bass-Robinson, Dean Kannemeyer en Joey Ramsden wat sedert 2014 die wenners opgelewer het.

Die finale deelnemers word Dinsdag bekend gemaak.

Van dan af sal bookmakers moet bontstaan soos wedders hul weddenskappe gaan begin plaas.

  • Volgens ’n verklaring deur die eienaars van Got The Greenlight kan die Suid-Afrikaanse kampioen­jokkie Lyle Hewitson weens onvoorsiende omstandighede nie meer sy verpligting in die July op dié perd nakom nie.

Plaasvervanger

Geen rede is vir Hewitson se posisie gegee nie.

Muzi Yeni sal nou Hewitson se plek neem op Got The Greenlight, wat vier van sy laaste sewe wedrenne gewen het.

Volgens die eienaars is Yeni ’n uitstekende plaasvervanger, aangesien hy al talle groot wedrenne vir hulle gewen het. Got The Greenlight se wedsyfers word tans as 7-1 aangegee en moet as ’n sterk aanspraakmaker beskou word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters