2 maande gelede
Matika wil sy naam skoon kry
Bantwini Matika Foto: charles pullen  ~ 

BANTWINI Matika glo vas hy kan sy bedanking as adjunkpresident van die Oostelike Provinsie Rugbyunie terugtrek – al staar ’n strafregtelike klag hom in die gesig.

Matika en drie ander voormalige ampsdraers van die OPRU word tans deur die handelshof ondersoek vir beweerde bedrog.

Volgens Matika geniet hy die steun van klubs verbonde aan die OPRU om sy bedanking terug te trek.

Son op Sondag is egter in besit van Whats­App-boodskappe van ’n groep met die naam EPRU Stake­holders, waarvan sekere lede ontevrede is met van die standpunte wat Matika gemaak het.

Dié WhatsApp-boodskap aan Matika lui: “Oudregter Mpati se proses is nog nie afgehandel nie – Mpati se ondersoek is afgehandel. Die verslag moet nog gedebatteer en aanvaar word deur diegene in besit daarvan – die klubs. Bantwini het nou hierdie proses probeer omverwerp.

“Ons as unie-komitee (klubs) praat net by unie-vergaderings – jou kommentaar dreig om die proses omver te werp.

“Jou naam, Bantwini, is nie belangriker as die mense wat jy veronderstel was om te dien nie!

“Jy het ernstige standpunte gemaak wat klubs affekteer ...

“1. Jy beweer klubs het jou gevra om jou bedanking terug te trek sonder om enige klubs se name te noem, maar sover dit ons aangaan, bedoel jy seker alle klubs. Wanneer het ons as klubs ontmoet om sulke aankondigings te maak? Dit kan mos nie reg wees nie.

“2. Jy is letterlik besig om die ondersoek af te kraak deur te sê dat net ’n hof jou lot sal bepaal.

“Hoewel dit waar is, is jy besig om te sê dat die unie niks aan jou kan doen nie. Dít is ook nie reg nie!”

Platform

Matika reageer hierop met: “My naam is beswadder deur dié skandaal. Die regter se verslag is gefinaliseer en uitgereik en nou is dit tyd om my naam skoon te kry.

“Hierdie is maar net die eerste fase sedert ek bedank het.

“Raak gewoond daaraan, Sompy, en ek gaan dieselfde platform gebruik wat die OP gebruik het om my naam in die oë van die uitvoerende komitee, klubs en publiek in oneer te bring.

“As jy nie gelukkig is nie, kan jy gaan loop spring van die naaste blah blah.”

“Ek het gewerk vir my naam en familie en sal dit beskerm, al beteken dit ek gaan die ondersteuning van sogenaamde comrades verloor.”

Son op Sondag het Matika hieroor gekontak, maar hy wou nie bevestig watter klubs se ondersteuning hy geniet nie.

Hy het gesê: “Ek het die verslag wat deur my prokureur bestudeer word.

“Hy is besig om notas te maak vir amptelike kommentaar. Ons sal heel moontlik teen Woensdag hierop kommentaar lewer.”

Matika sê hy weet nie van enige WhatsApp-boodskappe nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters