2 maande gelede
Manana aangeval in vervalste brief
PORT ELIZABETH, SOUTH AFRICA - APRIL 09: during the EP Rugby Senior Team Management for SuperSport Challenge and Currie Cup announcement at EPRU Offices on April 09, 2019 in Port Elizabeth, South Africa. (Photo by Michael Sheehan/Gallo Images)Foto: gallo images  ~ 

DAAR is alweer fake dokumentasie wat op die Oostelike Provinsie Rugbyunie (OPRU) se stoep beland het.

Son op Sondag het ’n uitgelekte afskrif van ’n brief ontvang wat kastig deur die rugbyklub Gardens neer­gepen is.

In dié brief wat aan die OPRU gerig is, word verskeie kwessies genoem, maar daar word ook uitgevis oor ’n bedrag van R500 000 wat na bewering aan die Nelson Mandela-Universiteit (NMU) betaal is.

Die OPRU se algemene bestuurder, die oud-Springbok Thando Manana, se aanstelling word ook in twyfel getrek met valse bewerings dat hy net vir ’n jaar in dié pos gekontrakteer is.

’n Onberispelike bron het egter aan Son op Sondag vertel Manana is nie net vir ’n jaar aangestel nie.

“Sedert mnr. Manana se aanstelling het die OPRU se sake rooskleuriger begin lyk. Hy’t selfs ’n borgskap vir die unie se Cravenweekspan verseker. En is vroeër vanjaar by ’n saamtrek van die land se uitvoerende hoofde van rugby as een van die belowendste jong bestuurders in die sport aangewys,” het die bron vertel.

Die skrywers van die fake brief vra onder meer dat die ondersoek-uitslae deur oudregter Lex Mpati na vervalste kwotasies saam met die ander kwessies bekend gemaak moet word.

Opgetrek

Son het in Maart die twee vervalste kwotasies onthul waarin daar by die unie vir byna R450 000 gevra is.

Dié keer vra die briefskrywer oor kwotasies van R500 000 wat kastig aan die NMU betaal is en presies waarvoor dit was.

Gardens se senior adjunkhoof, Rudy Rosseaw, sê dié klub het nog nooit ’n brief aan die OPRU geskryf nie.

“Dit (die brief) is sonder enige briefhoof opgetrek,” wys Rosseaw uit, “en die klub stuur nie enige kommunikasies uit op so ’n manier nie.

“Ons het die brief met die bestuur bespreek en dis bevestig dat dit nie van ons gekom het nie.

“Ons sal natuurlik ’n deeglike ondersoek van stapel stuur om so uit te vind waar en hoekom die brief opgetrek is met ons naam. Hopelik sal ons binnekort meer weet.”

Die OP-president, André Rademan, sê Gardens se bestuur het reeds met hom kontak gemaak om te verduidelik dat dit nie hul handewerk is nie.

“Daarom wil ons nie te veel daaroor sê nie. Gardens distansieer hulle daarvan,” voeg Rademan by.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters