Verlede jaar
Leeds terug in die EPL
Marcelo Bielsa.  ~ GETTY IMAGES

LEEDS is terug in die Engelse Premierliga ná ’n afwesigheid van 16 jaar.

Dit volg nadat West Bromwich Albion, die tweede geplaaste span in die Championship-liga, Vrydag in die John Smith Stadium met 1-2 teen Huddersfield Town vasgeval het.

Dié “gunsie” van Leeds se Yorkshire-buurspan beteken die span van Elland Road, Leeds, kon sy promosie-feesvieringe as kampioen van die liga vroeër begin.

Bank

Leeds het 87 punte met nog twee wedstryde oor.

Dis vyf punte meer as West Brom (82 punte), wat ná sy nederlaag teen Huddersfield net een wedstryd oor het.

Leeds se Italiaanse eienaar, Andrea Radrizzani, lag ook nou al die pad bank toe.

Wees verseker – Radrizzani­ sal beslis ’n glasie of twee op hul promosie na die Premierliga klink.

Dis iets in die omgewing van £170 miljoen (sowat R3,56 miljard) werd.

Leeds United se Argentynse manager, Marcelo “El Loco” Bielsa, het die klub se fans bedank vir hul ondersteuning sedert hy die leisels oorgeneem het.

“Dankie, dankie! Ons is lief vir julle,” het hy gesê.

Bielsa was voorheen ook betrokke by die nasionale spanne van Argentinië en Chili.

Leeds pak Derby County en Charlton Athletic in sy oorblywende twee wedstryde.

Volgens Howard Wilkinson, wat Leeds in 1992 tot promosie gelei het, sal sy voormalige span beslis waarde kan voeg tot die Premierliga.

“Marcelo Bielsa het dit gewaag om anders te wees,” verduidelik die 76-jarige Wilkinson.

“Hulle sal die Premierliga goed kan aandurf,” het Wilkinson bygevoeg. – AP

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters