Verlede jaar
Handelshof ondersoek nou OPRU-vier
AndrĂ© Rademan.  ~ Gallo Images

DIE vier verdagtes in die Oostelike Provinsie Rugbyunie (OPRU) se interne ondersoek na die vervalsing van fakture ter waarde van R450 000 kan strafregtelik vervolg word.

André Rademan, president van die OPRU, het Vrydag ’n verklaring uitgereik waarin hy bevestig dat oudregter Lex Mpati se ondersoek na die fakture afgehandel is.

Luidens hierdie verklaring het oudregter Mpati beslis die bedankings van Bantwini Matika, die OPRU se adjunkpresident, sowel as twee administratiewe personeellede, John Scheepers en Angelo Peters, moet aanvaar word.

Eldridge “Chico” Februarie, OPRU-visepresident, se tydelike skorsing moet ingevolge Mpati se aanbevelings ook permanent gemaak word.

Matika, Februarie, Scheepers en Peters word daarvan verdink dat hulle verlede jaar ’n bedrag van R450 000 uit die OPRU se geldkoffers onwettig wou bestee.

Son op Sondag het dié nuus oor die twee vervalste fakture op 5 April onthul.

Die een faktuur was vir die huur van ’n rugbyveld vir R283 000 vanaf ’n tuinbou-onderneming in Cradock.

Onskuld

Ná ’n deeglike ondersoek het Son op Sondag bevind dié betrokke firma, Local Lawn & Landscaping, is eintlik ’n onderneming in die dorp Marshall in die Amerikaanse deelstaat Minnesota.

Die tweede faktuur ter waarde van R147 951 was vir maaltye vir ’n sub­unie-rugbytoernooi wat nooit in Oktober plaasgevind het nie.

Luidens ingeligte bronne kon die vier verdagtes nie met genoegsame bewyse vorendag kom om hul onskuld te bewys nie.

Daarom het Mpati verder aanbeveel die OPRU se uitvoerende raad bekragtig sy volle verslag en aanbevelings.

“Die saak word nou deur die handelshof ondersoek en die inhoud van oudregter Mpati se verslag word dus as sub judice beskou. Die unie sal dus nie verdere kommentaar hieroor lewer nie,” het Rademan gesê.

Volgens Son op Sondag se bronne was dit die getuienis van ’n voormalige OPRU-raadslid wat tot Mpati se aanbeveling sou lei dat die vier beskuldigdes deur die handelshof ondersoek moet word.

Dit was volgens dié voormalige raadslid nie die eerste keer dat die betrokke lede die OPRU se koffers probeer besteel nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters