8 maande gelede
Gunners gee steeds hul beste
harde werk: Die Gunners se breier, Mikel Arteta (middel), sê sy span moet alles gee teen Watford. Foto: GALLO IMAGES  ~ 

DIE Gunners se breier, Mikel Arteta, het belowe Arsenal gaan nie vandag in die Emirates-stadion teen Watford ’n fout maak nie.

Dis ’n stryd wat groot gevolge vir die relegasiestryd inhou, maar nie juis vir sy span se vooruitsigte nie nadat ’n nederlaag van 1-0 Dinsdag op Villa Park teen Aston Villa hul Europese drome beëindig het.

Arsenal kan nou nie hoër as agtste eindig nie – sy slegste liga-seisoen in 25 jaar – maar sy teenstanders moet Aston Villa se uitslag teen West Ham oortref as hulle wil oorleef.

Met ’n FA Cup-eindstryd teen Chelsea wat in Augustus voorlê, kan dit ’n logiese tyd wees om moeë bene te laat rus, maar Arteta sê: “Ek wil my sterkste span laat speel.

Benader

“Ons moet die relegasiestryd respekteer. Daar is ’n paar spanne betrokke en ons is ook deel daarvan. Dis ons verantwoordelikheid om die wedstryde mededingend te maak.”

Oor sy span se verpligting teenoor Watford sê hy: “Om ’n sterk span te kies beteken nie spelers wat minder gespeel het, gaan deelneem nie.

“Vir my gaan dit meer oor hoe ons die spel benader en in die wedstryd vorder. Daar sal beslis nie ’n gebrek aan intensiteit wees nie.”

Die Arsenal-verdediger Shkodran Mustafi is uit met ’n dyspierbesering. Arteta het bevestig Mesut Özil en Matteo Guendouzi is beskikbaar.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters