9 maande gelede
Canes skuur deur teen Blues
SPOED: Ngani Laumape klop Beauden Barrett op pad na sy drie.  ~ Getty Images

DIE Hurricanes het Saterdag ’n skitterende oorwinning met 29-27 oor die Blues in Wellington behaal.

Die telling in dié wipplank-stryd was in die rustyd gelykop, 15-15.

Hulle het sodoende hul aanspraak op Nieu-Seeland se Superrugby Aotearoa-kompetisie lewendig gehou ná hul vyfde wedstryd in die toernooi.

Ngani Laumape, die Canes se dinamiese binnesenter, was ’n doring in die Blues se vlees met sy sterk dartellopies.

Hy het vroeg reeds die skare in die Koekblik op hul voete gehad toe hy sy voormalige spanmaat Beauden Barrett aan sy buitekant met spoed geklop en meer as 40 m genael het om te gaan druk.

Barrett het ’n bietjie gas gekry van sy voormalige tuisskare elke keer as hy aan die bal geraak het, maar hy’t onmiddellik sy klas gewys toe hy ’n goeie drie van sy eie gedruk het.

Die middelperiode van die stryd is hoofsaaklik onder die voorspelers beslis met albei spanne wat rolmaalbewegings van lynstane af gebruik het om aanvalle mee te begin.

Smash

Die deurslaggewende oomblik het in die 75ste minuut gekom toe die Canes se Asafo Aumua ná een van die rolmaalbewegings oorgegaan het vir die tuisspan.

Jordie Barrett het die doelskop uit die hoek oorgeskop en al het die Blues in die doodsnikke probeer het om die wedstryd te smash en grab, het die jonger Barrett se doelskop aan die einde die verskil tussen die twee spanne gemaak.

Die Canes beklee tans die derde posisie op die Aotearoa-punteleer met 12 punte ná 5 wedstryde, terwyl die Blues 2de is met 13 punte.

Puntemakers:

HURRICANES drieë: Ngani Laumape, Reed Prinsep, Asafo Aumua, Dane Coles; doelskoppe: Jordie Barrett (3); strafdoel: Barrett.

BLUESdrieë: Beauden Barrett, Dalton Papalii, Akira Ioane, Kurt Eklund; doelskoppe: Otere Black, Barrett; strafdoel: Black.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters