2 maande gelede
Canes skok Saders in Christchurch
dubbele sukses: Wes Goosen op pad doellyn toe vir een van sy twee drieë vir die Hurricanes. Foto: GETTY IMAGES  ~ 

DIE Hurricanes het gister in Christchurch vir ’n skok gesorg toe hulle die Crusaders met 34-32 in die Superrugby Aotearoa geklop het.

Dit was die Saders se eerste Superrugby-tuisnederlaag in vier jaar.

Die eerste helfte was ’n opwindende een-vir-jou-een-vir-my-affêre, met veral die Crusaders se nr. 10, Richie Mo’unga, en Ngani Laumape, die Hurricanes se dinamiese binnesenter, wat toe uitgeblink het.

Mo’unga het die Saders se eerste drie gedruk ná goeie werk deur die All Black-senter Jack Goodhue.

Laasgenoemde se tweestryd met Laumape was een van die groot besprekingspunte voor die wedstryd, maar dit het ongelukkig net 52 minute geduur voordat Laumape die veld met ’n besering verlaat het.

Hy was egter sy besige self in dié tydperk en daar is ’n groot moontlikheid dat dié twee die All Blacks se senterpaar gaan wees wanneer toetsrugby hervat word.

Die Canes se Wes Goosen, ’n gebore Suid-Afrikaner, het twee keer in die eerste helfte agter die doellyn gaan kuier. George Bridge, die tuisspan se linkervleuel, se opportunistiese drie het beteken die spanne het gaan lemoentyd hou met die Canes 21-17 voor.

Kans

Die besoekers het net een drie in die tweede helfte gedruk, maar dit was die skopskoen van Jordie Barrett (heelagter) wat die verskil tussen die twee spanne gemaak het.

Hy het vyf strafdoele en twee doelskoppe oorgeklits en ’n stewige 19 punte vir sy span aangeteken.

Mo’unga, wat ’n skitterende wedstryd beleef het, het ’n kans gehad om ’n gelykop uitslag in die doodsnikke af te dwing, maar sy doelskop van Sevu Reece se drie was links verby.

“Ons het natuurlik deur die jare nie baie hier gewen nie. So, om dit vanaand te kon doen, is baie spesiaal,” het TJ Perenara, die Canes se kaptein, ná die wedstryd gesê.

Die Saders is ten spyte van die nederlaag steeds bo-aan die Superrugby Aotearoa-punteleer.

Puntemakers:

HURRICANES – drieë: Wes Goosen (2) Peter Umaga-Jensen; doelskoppe: Barrett (2); strafdoele: Barrett (5).

CRUSADERS – drieë: Richie Mo’unga, George Bridge, Quinten Strange, Sevu Reece; doelskoppe: Mo’unga (3); strafdoele: Mo’unga (2).

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters