2 maande gelede
Blitsbokke se fisioterapeut voel dis ’n eer

DIE Olimpiese Spele in 2016 is die Blitsbokke se gesoute fisioterapeut, Hugh Everson, se grootste herinnering.

Die voormalige Blitsbok-afrigter Paul Treu het Everson in 2007 nadergetrek nadat hy reeds sedert 2002 by rugbyspanne betrokke was.

Hy het onder meer die o. 19- en o. 20-SA Skolespan, sowel as die Griekwas se Curriebekerspan as fisio verteenwoordig.

Sewesrugby se 2019-’20-seisoen, kortgeknip deur die corona-virus-pandemie, is Everson se 13de Wêreldreeks saam met die Blitse.

Die rede hoekom Everson egter as ’n geloofwaardige top-kenner in sy veld geag word, is sy betrokkenheid by ander sportsoorte.

In sy universiteitsjare was hy by verskeie sportgeleenthede betrokke.

“Toe ek op UWK was, was ons bevoorreg om deel te wees van baie events. Dit het my sienswyse om mense te help, aangespoor,” het Everson aan Son op Sondag gesê.

“Die blootstelling aan verskillende clinical settings en my betrokkenheid by so baie gemeenskapsprojekte het vir my ’n baie goeie grondslag gelê vir my mediese loopbaan.”

Hierdie sportgeleenthede sluit in die Two Oceans- en Comrades-ultramarathon, die Argus-fietstoer en die Sport Science Institute of South Africa-uitreikprogram.

Mister Hugh, soos hy onder die sewesspelers en in die media bekend staan, is een van net twee fisio’s wat spog met 100 Wêreldreekstoernooie agter hul naam. Die ander is Fidji se William Koong.

Skok

Ná 100 toernooie is daar maar min wat Everson oopmond laat terwyl hulle op toer is – met ’n volle dekade van spelers en duisende voyager miles onder sy belt is niks meer vir hom weird nie.

Daar was wel die keer toe ’n sekere speler ’n GHD-haarstryktang op toer gebring het.

“Dis ’n groot eer om 100 toernooie saam so ’n great groep spelers deur te maak. Daar is so baie wat op toer gebeur wat mens nooit sal dink in ’n rugbyspan sal gebeur nie. Van die goed wat ek al oor die jare gesien of ervaar het, skok nie veel my nie, maar die een voorval wat vir my as weird uitstaan, was toe een van die spelers ’n GHD op toer saambring. En daar was nie ’n vrou in sig nie.”

Die tradisionele dreadlocks is amper eie aan die Springbok-sewesspan, met manne soos Cecil Afrika, Branco du Preez, Justin Geduld, Seabelo Senatla, Selvyn Davids, Rosko Specman ... en so groei die lys. Maar dis hoe hierdie manne die lokke in plek hou wat vir Mister Hugh baie snaaks is.

“Een van die manne met dreadlocks het ’n swirlkous op toer gedra,” onthou Everson laggend.

Die Kimberley-boorling ag baie van die spelers en afrigters oor die jare as familie.

“Ons het ’n baie nou band gevorm oor die jare. Spelers kom en gaan, maar dié wat opgetrek word en selfs dié wat agterbly, het die 13 seisoene by die span baie wonderlik gemaak.”

Wat aftrede betref, vertel die 46-jarige Everson dat dit nie op sy radar is nie.

“Ek sal by die Blitsbokke wil bly solank as wat Saru my kontrak hernu. Ek geniet my werk en hopelik kan ek dit nog vir ’n paar seisoene doen, totdat daar vir my ander uitdagings opduik.”

Everson woon tans in Wynberg en bedryf sy praktyk in die Medi­clinic Milnerton.

Hy sê hy het geen favourites in die sewes-kamp nie, maar hy ag Neil Powell (hoofafrigter) as een van die mees invloedryke mense met wie hy al gewerk het.

“Almal, bestuur en spelers, koop die idee van die stelsel wat uiteengesit word deur die afrigters, maar dis coach Neil se dryfkrag wat sorg dat ons die kultuur in die span handhaaf; iets wat vir ons baie goed werk.”

Everson sê met kontaksport wat tans verbied word, sal hulle as mediese personeellede die breiers aanraai om spelers stadig in te faseer en om nie té vinnig in kontaksessies in te boender nie.

“Aan die begin van die lockdown was spelers maar beperk in hul opsies vir oefeninge. Soos die tyd aangestap het, het spelers kreatief begin word. Uit ’n mediese oogpunt gaan ons egter sterk aanbeveel dat spelers nie dadelik in kontaksessies moet invaar nie. Daar moet ’n geleidelike infasering wees.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters