Verlede jaar
Berdien wil naam maak in Tanzanië
Maak so! Banyana Banyana se coach, Desiree Ellis (links), luister aandagtig na Riedoh Berdien se raad.  ~ BACKPAGEPIX

KOM ons noem ’n spade ’n spade – Banyana Banyana se fitness coach­, Riedoh Berdien, kry beslis nie die nodige erkenning en krediet wat hy in sy geboorteland verdien nie.

Ná ’n stint by Chippa United, Bloemfontein Celtic en Free State­ Stars in die Premierliga (PSL) het geen ander groot PSL-klub sy dienste opgeraap nie.

Berdien, wat aan die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie gegradueer het, het intussen nog vere in sy hoed bekom wat sy kwalifikasies betref.

Dit sluit in diplomas as ’n persoonlike fiksheidsinstrukteur (CPT), ’n spesialis-oefenterapeut (SET) en ’n spesialis-sportvoedingskundige (SSN).

Ironies genoeg word die Suid-Afrikaner se vernuf en bekwaamheid as fiksheidsfundi vir sokkerklubs wel raakgesien deur ander Afrikalande.

Dis ook een van die redes waarom die Kapenaar nou Mzansi se vlag in die buiteland laat wapper.

Dít nadat Berdien ’n kontrak met Young Africans van Tanzanië losgeslaan het.

Die veelbereisde Berdien, wat ook in lande soos Trinidad en Tobago, asook Togo gewerk het, het nou weer in Tanzanië kragte met Luc Eymael, Stars se voormalige Belgiese coach, saamgesnoer.

Die duo het voorheen by Stars in die PSL saamgewerk.

Volgens Berdien is dit sy doelwit om coaches te help om suksesvol te wees met ’n span.

“Ek dink ’n persoon moet net geduldig wees in die bedryf,” verduidelik die 38-jarige Berdien.

“Dis ook wat Allah (God) vir my uitgesit het.

“As iets nie vir jou bedoel is nie, dan is daar niks wat jy aan die saak kan doen nie.

“Young Africans is ’n groot klub in Tanzanië en ek is oukei hier.

“Natuurlik gaan dit vir my ’n uitdaging wees in ’n nuwe land en omgewing,” het hy bygevoeg.

Plaaslik is Berdien ook bekend vir sy rol by SA se nasionale vrouespan, waar hy met die eersteklas-afrigter Desiree Ellis saamgewerk het.

Ontwerp

Berdien sê aangesien Banyana Banyana nie kontrakte aan fiksheidsbreiers gee nie, het hy ’n ooreenkoms met sy klub om SA se nasionale vrouespan uit te help wanneer hulle wedstryde speel.

“Tans is ek en die coach (Ellis) besig om oefenprogramme vir Banyana Banyana-aspirantspelers te ontwerp,” het hy ten slotte gesê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters